Header Artwork
Baie meer fout in staatsdiens as net gebrek aan kwalifikasies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag gesê die feit dat 35% van senior staatsamptenare nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie, is slegs een van vele probleme wat die staat en dienslewering kniehalter. Senzo Mchunu, die Minister van Staatsdiens en Administrasie, het hierdie feit onlangs bekend gemaak.

Dr. Eugene Brink, strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê ofskoon hierdie besonderhede skokkend is, is dit nie verrassend nie. “Die onlangse uitslae deur die ouditeur-generaal dui aan dat provinsiale en nasionale departmente nie ag slaan op herhaaldelike kommer wat oor verskeie aangeleenthede uitgelig word nie. Dieselfde word bespeur by munisipaliteite, waarvan slegs 8% skoon oudits kry.”

Dit is egter net die ore van die seekoei en moet in samehang met ander faktore gesien word. “Eerstens is die staatsdiens enorm. Die staatsdiensloonrekening is besig om ’n oorgroot deel van die operasionele begroting van die staat op te vreet en skrik terselfdertyd beleggers af. Nogtans is daar geen omkeer nie, met gemeenskapsdienste en dus die staat wat een van die min sektore is wat in die COVID-19-era groei toon danksy nuwe aanstellings.

“Indien hierdie aanstellings boonop te veel kos in die lig van die lae produktiwiteit van die staat, sit dit om in ekonomiese agteruitgang, swak dienslewering en sosio-politieke onstabiliteit,” sê Brink.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfrifForum, hou hierdie kwessies boonop verband met korrupsie, die ANC se beleid van kaderontplooiing, regstellende aksie en ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid. “Indien iemand weet hulle word aangestel op enigiets anders as meriete, is dit ’n vrypas en selfs ’n plig om te plunder want jy weet daar is geen gevolge vir jou nie. Jou werk word dan om te steel, nie om die werk te doen waarvoor jy nie eers gekwalifiseer is nie en boonop waarvoor jy te veel betaal word. Derhalwe word duur konsultante aangestel om die werk van hierdie oorbetaalde amptenare te doen.

“Die belastingbetaler en publiek verloor dan op veelvuldige wyses en nie net omdat iemand nie kwalifikasies het nie. Om nie die nodige kwalifikasies en vaardighede vir jou werk te hê nie is reeds erg genoeg, maar om dan nog geld te verloor wat deur onbevoegde amptenare gesteel word is veel erger.”

Laastens moet daar ook vrae gevra word oor viktimisering van goeie amptenare; pligsgetrouheid; die algehele leierskap in die staat; en ook bevoegdheid en juistheid van die gekwalifiseerde mense in die staat. “Goeie en hardwerkende mense word uit die staatsdiens gedryf oor hul etiese optrede, kleur van hul vel en politieke onverbondenheid.”

“Sonder om almal oor dieselfde kam te skeer, kan daar baie geldige kritiek teenoor baie gekwalifiseerde mense uitgespreek word, want die staat het nie verswak net omdat mense nie kwalifikasies het nie. Kwalifikasies kan ook vervals word en diegene met kwalifikasies kan steeds nie bevoeg wees om leiers te wees of hul pligte behoorlik uit te voer nie. Dit verg ook nie ’n kwalifikasie om betyds te wees vir werk en die basiese goed reg te doen nie,” sluit Brink af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN