Header Artwork
ANC-regering besig met verraad teenoor gewone landsburgers

Deur Alet Rademeyer

As oudpres. Jacob Zuma nie binnekort tog gaan aanmeld of deur die polisie in hegtenis geneem word om sy 15 maande tronkstraf weens minagting van die hof uit te dien nie, sal gewone landsburgers finaal hul vertroue in die regering, die land en die oppergesag van die reg verloor.

Zuma is verlede week deur die hoogste van hof van die land, naamlik die Konstitusionele Hof, skuldig bevind aan minagting van die hof en 15 maande tronkstraf opgelê.

Die spreekwoordelike ink van die uitspraak was skaars droog voordat Zuma met hernude kat-en-muis-speletjies begin het om te verhoed dat die tronkdeure agter hom toeklap.

Hy het, die nou reeds omstrede, adv. Dali Mpofu genader om te kyk of dié hom nie op die nippertjie uit sy penarie kan red nie.

Mpofu is vir baie ANC-politici en ANC-amptenare hul laaste uitweg om nie aan een of ander oortreding, korrupte aktiwiteit of sommer suiwer wangedrag en onbekwaamheid in die howe skuldig bevind te word nie. Met sy arrogante houding het al ’n reputasie in die howe opgebou in sake waar hy kliënte soos Thandi Modise, Tom Moyane, Ace Magashule en Busisiwe Mkbewane verteenwoordig het. Selfs adjunkhoofregter Raymond Zondo van die Zondo-kommissie het Mpofu al ernstig berispe oor sy uitbarsting voor die kommissie.

Dit is baie maklik vir Mpofu om die rassekaart in sake te speel. En nou in die geval van Zuma het hy opnuut gewys wat met uitgeslape taktiek bereik kan word. Skielik is Zuma die arme, sieklike slagoffer vir wie tronkstraf ’n “doodsvonnis” sal wees.

Hy het dalk vir Zuma tyd gekoop, maar ’n onvergenoegdheid en absolute ontevredenheid is onder gewone burgers aan die opbou oor die dubbele standaarde wat in die land, en ooglopende ook in die regstelsel, toegepas word.

Regslui is wel skepties oor Zuma se kanse op sukses, maar net die tyd sal leer wat beslis sal word wanneer die Konstitusionele Hof op 12 Julie Zuma se aansoek tot die nietigverklaring van hul uitspraak  aanhoor.

As Zuma om een of ander duistere rede daarin gaan slaag om sy vonnis gewysig te kry of selfs vry te spring, sal dit ’n kwade dag vir die land wees. As gelykheid voor die reg enigsins nog bestaan, sal Zuma ongeag sy ouderdom, status of vrees om COVID-19 in die gevangenis op te doen, nie skotvry daarvan afkom nie. Zuma sal nie die eerste bejaarde wees wat tronk toe gestuur word nie.

Suid-Afrikaners en minderheidsgroepe in die besonder het lankal begin om hul vertroue in die regering, die Grondwet en die regstelsel te verloor. As Zuma nie kry wat hy verdien nie, sal wantroue én woede onder gewone mense net nog meer toeneem. Al hoe meer verantwoordelike burgers kan so ontnugter raak dat hulle toenemend reg in eie hande sal begin neem, terwyl diegene wat nie meer vir ’n mislukte staat kans sien nie en dit kan bekostig, hul laaste kanse sal aangryp om te emigreer.

Terwyl dit tans voel of die land rondom die Zuma-debakel op ’n mespunt is, kan ’n mens ook nie anders nie as om te wonder waar pres. Cyril Ramaphosa hom in die lig van hierdie ooglopende krisis bevind. Waar is die leierskap wat die land in ’n tyd soos hierdie broodnodig het?

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN