Header Artwork
AfriForum wil medaljewenners wat niks kry met nuwe fonds ondersteun 

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n medaljefonds vir die wenners van die Olimpiese en Paralimpiese Spele bekendgestel. Dit volg nadat daar die afgelope naweek wyd berig is dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) oor min of geen fondse beskik nie om medaljewenners vir hul prestasies te vergoed. Die Paralimpiese Spele word van 27 Augustus tot 5 September gehou.  

Die medaljefonds, wat deur die sanger Adam Tas op Twitter voorgestel is, word deur AfriForum bestuur. Dié organisasie het die eerste skenking van R50 000 aan die fonds gemaak en moedig die publiek, sakeondernemings, organisasies en maatskappye aan om die fonds te ondersteun. 

“Dit is skokkend dat die owerheid en SASKOK ons atlete in die steek laat. Die feit dat Adam Tas en talle ander AfriForum-lede ons versoek het om in te gryp, is weereens tekenend van ’n kragtige selfdoengemeenskap wat intree waar die owerheid misluk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. 

Hoewel Barry Hendricks, die president van SASKOK, gesê het dat hy met “sekere partye” in verbinding sal tree om vir vergoeding te onderhandel, kon hierdie situasie verhoed word indien SASKOK in die laaste paar jaar beter met hul fondse te werk gegaan het. “Wanbesteding is nie net ’n SASKOK-probleem nie. Talle sportlui ly onder die onverantwoordelikheid van komitees en federasies wat veronderstel is om na hul belange om te sien,” sê Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport. 

“Benewens die feit dat atlete Suid-Afrika op eie onkoste by die Spele moes verteenwoordig, word hul harde werk ook nie beloon nie. Nathi Mthethwa se uitlatings dat ons demografie nie voldoende verteenwoordig word nie, slaag nie as ’n mens in ag neem hoeveel talentvolle atlete sou kon deelneem as hulle finansiële ondersteuning gekry het,” voeg Peters by. “Wanbesteding moet uitgeroei word as ons wil hê dat talentvolle en minderbevoorregte atlete op die wêreldverhoog moet deelneem. ’n Span behoort nie volgens ’n spesifieke demografie saamgestel te word nie; dit begin by die beskikbaarstelling van gelyke geleenthede, geriewe en afrigting vir jong sportlui.”  

Skenkings sal tot 15 September 2021 aanvaar word, waarna dit aan atlete oorhandig sal word. Mense wat tot die fonds wil bydra, kan dit in AfriForum se rekening inbetaal met “MEDALJE” as verwysing. 

Maatskappye en organisasies wat by dié fonds betrokke wil raak kan sport@antiek.afriforum.co.za e-pos


Banknaam: 
First National Bank

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

SWIFT-kode: FIRNZAJJ

Verwysing: MEDALJE

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN