Header Artwork
AfriForum waarsku oor grootskaalse verset ná dubbele standaarde in Nkandla

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Departement van Polisie en Bheki Cele, Minister van Polisie, in ’n skrywe gewaarsku oor die dubbele standaarde van wetstoepassing wat tans in Nkandla afspeel.

Na raming het sowat 1 000 mense die afgelope naweek in dié gebied bymekaargekom om hul steun aan oudpresident Jacob Zuma te toon. Buiten dat dit teen die huidige vlak 4-inperkingsregulasies is om só ’n groot samekoms te hou, is snelweë ook versper en het Zuma-ondersteuners selfs op geleentheid skote in die lug afgevuur. Ten spyte van al hierdie oortredings is nie een enkele persoon al in hegtenis geneem nie.

AfriForum is van mening dat die publiek deeglik bewus is van hierdie dubbele standaarde, waar restaurateurs vervolg word wanneer hulle ’n bestaan probeer maak en wetsgehoorsame burgers soos geharde misdadigers hanteer word wanneer hulle vergeet om ’n gesigmasker te dra.

Dit kan tot ’n opstand lei onder burgers wat genoeg gehad het daarvan dat daar een stel reëls vir hulle is en ’n ander stel reëls vir die politieke elite en hulle trawante.

“Suid-Afrikaners is lank reeds keelvol vir hierdie ingrypende, onlogiese inperkings wat mense se lewens verwoes en nou dat dit duidelik is dat sekere mense hulle nie aan die inperkings hoef te steur nie, gaan al hoe meer mense dieselfde begin doen,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van Veldtogte.

“Die feit dat Zuma ook steeds nie gearresteer is nie, maar eerder spesiale behandeling ontvang vanaf die hoogste hof in die land, beklemtoon net weer eens dat sommige mense meer gelyk is as ander en ek is bevrees dit gaan tot wye verontagsaming van die wet lei,” sluit Broodryk af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN