Header Artwork
AfriForum stuur skrywe aan ombudsman oor transformasie van KSA

AfriForum het op 30 April 2021 ’n skrywe gerig aan adv. Dumisa Ntsebeza, ombudsman vir transformasie by Krieket Suid-Afrika (KSA), nadat KSA bekendgemaak het dat hul skriftelike voorleggings van huidige en voormalige spelers, afrigters, administrateurs en ook ander belanghebbendes ook sal oorweeg.

AfriForum het reeds in November 2020 ’n volledige verslag gepubliseer wat die negatiewe impak van KSA se transformasiebeleid op die sport uitlig. In die verslag word daar onder meer aangedui dat dié beleid diskriminerend is en ’n negatiewe impak op prestasie en veral op die sportgemeenskap in Suid-Afrika het.

Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum, sê die betrokkenheid van dié burgerregteorganisasie by hierdie proses is van kardinale belang. “AfriForum verteenwoordig in dié stadium bykans 280 000 lede. Weens die rol wat sport in ons gemeenskappe speel, is dit belangrik dat ons insette op hierdie proses – wat op nagevorste feite gebaseer is – deur die transformasieombudsman bestudeer moet word. Die huidige transformasiebeleid diskrimineer nie net nie, maar dryf ook gemeenskappe uitmekaar.

“Ons moet dringend ’n onderskeid tref tussen transformasie en ’n kwotastelsel. Indien KSA werklik ernstig is oor transformasie in die sport, moet hul volhoubare talentidentifisering en ontwikkelingsprogramme in plek stel wat minderbevoorregte persone met hulpbronne toerus en die nodige geleenthede gee om hul volle potensiaal te bereik,” sê Peters.

Volgens Peters is die volhoubare identifisering van talent en ontwikkelingsprogramme wat slegs op die bemagtiging van minderbevoorregte individue fokus – en nie op die kleur van hul vel nie – die enigste volhoubare oplossing.

AfriForum vertrou dat adv. Ntsebeza die brief in goeder trou sal ontvang en dat hy die kritiese elemente wat in die skrywe en in die verslag vervat word, sal oorweeg wanneer hy sy aanbevelings oor die herstrukturering van die transformasiebeleid van KSA maak.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN