Header Artwork
AfriForum stel belastingmanifes met eise teen belastingplundery bekend

Deur Alet Rademeyer

AfriForum het vandag ’n belastingmanifes vrygestel waarin bepaalde eise aan die regering gestel word om op te tree en toe te sien dat belastingbetalers se geld nie langer wanbestuur, misbruik en gesteel word nie.

Ingevolge die manifes sal AfriForum ’n onafhanklike burgerlike sekretariaat saamstel, wat lede van die organisasie en ondertekenaars van die manifes sal verteenwoordig met betrekking tot die eise wat gestel word.

Die doel van die sekretariaat is om ’n burgerlike belastingopstand te verhoed deur toe te sien dat die staat die nodige stappe doen om belastinghervorming deur te voer.

Een van die eise is dat die regering die sekretariaat as legitieme liggaam erken wat ’n beduidende aantal van die land se belastingbetalers verteenwoordig.

Voorts word geëis dat die regering en betrokke ministers met die sekretariaat moet vergader om die eise te bespreek en dat die sekretariaat se oorsigfunksie oor die nasionale tesourie oor die aanwending van belastinggeld erken word.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê die land bevind hom in ’n belastingkrisis en ’n revolusie in dié verband is nie die oplossing nie. “Daar moet eerder dringend na belastinghervorming gekyk word om toe te sien dat geld nie verder gesteel word nie en dat korrupte amptenare vervolg word en belastinggeld nie op destruktiewe ekonomiese beleid vermors word nie.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

“Tot op hede slaan die regering nie ag op die krisis nie en blyk dit dat hulle nie besef dat probleme sal vererger as daar nie na oplossing gekyk word nie.”

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê belastingbetalers het genoeg gehad. “Hulle is kwaad en kom in opstand teen korrupsie met hul geld. Groot onrus is in die land aan die ophou oor belastingplundering en –vermorsing.”

AfriForum beplan ’n baie wyer veldtog rondom belastingprotes en meen dit is verstaanbaar dat burgers ’n vorm van protes sal toepas en ondersteun. Dit neem rééds verskeie vorme aan soos belastingweerhouding, -ontduiking, -vermyding, -vertraging en emigrasie.

Die manifes lui voorts dat die regering faal daarin om die land veilig te hou. Meer as 20 000 mense word jaarliks vermoor. Die SAPD en ander staatlike veiligheidsmagte is ook hopeloos onbeholpe in tye van krisis.

Die regering faal ook daarin om toe te sien dat privaat eiendomsreg en die basiese voorwaardes vir ’n werkende markekonomie in stand gehou word. Die regering misluk daarin om die land doeltreffend te regeer wat blyk uit talle diensleweringsbetogings en regsaksies teen die staat. ’n Kultuur van ongebreidelde korrupsie en plundering van staatsfondse heers en die gevolg is dat die staat oor die afgelope twee dekades reeds skade in die omgewing van R1biljoen (R1 000 000 000 000) gely het.

Daarbenewens het werkloosheid ook krisisafmetings aangeneem.

“Dit is vir belastingbetalers duidelik dat die voortgesette betaling van belasting die enigste rede is waarom die staat by magte is om met sy verwoesting en plundery voort te gaan. Dit moet nou gestop word,” sê Kruger.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum.

Die manifes en eise is vandag aan pres. Cyril Ramaphosa en verskeie ministers gestuur. “Ons hoop dat die regering die erns hiervan dringend sal besef,” sê Roets.

Om die volledige manifes te lees besoek www.belastingveldtog.co.za en voeg jou naam by teen dié stryd.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN