Header Artwork
AfriForum se Potchefstroom-tak werk saam met munisipaliteit om waterprobleme op te los

Nadat die AfriForum-tak in Potchefstroom die rioolprobleme op die dorp aan die administrateur, Thupi Mokhatla en die direkteur van infrastruktuur, Jack Monnakgothu uitgewys het, is AfriForum se omgewingsbeampte, Lieb Venter en Mokhatla weekliks in gesprek om die probleem aan te spreek. Die probleme wat ter sprake is, is hoofsaaklik rioollekke, varswaterlekke en stormwaterstelsels wat verstop is.

Omdat daar tans geen rekordstelsel bestaan om die probleme aan te teken nie, is Mokhatla besig om ’n selfoontoepassing te laat ontwikkel waarop inwoners klagtes kan aanteken en die ligging daarvan kan gee. Dit sal help aangesien talle klagtes tans verlore gaan. Die munisipaliteit is op die oomblik besig om die hoofstroomwaterstelsels oop te spuit en klippe en ander vullis uit die stelsel te verwyder.

AfriForum het in Oktober 17 rioollekke gerapporteer waarvan 16 herstel is en 18 waterlekke waarvan 12 herstel is. Tot dusver is daar in November drie rioollekke gerapporteer wat almal herstel is en een waterlek wat wag om herstel te word.

Met die reënseisoen wat begin het, is stormwaterstelselverstoppings ’n probleem. Die verstopping in Kruisstraat is skoongemaak, maar die N12 bly steeds ’n probleem.

Watertoetse wat Venter onlangs gedoen het, toon dat die Mooirivier skoon is tot by die Joolplaas, waarvandaan die waterprobleme begin. Die toetsresultate by die Total-vulstasie vir chemikalieë en fekale koliform in die water lyk tans belowend.

Die munisipaliteit het verder ’n infrastruktuur-oudit laat doen waarvan die plaaslike AfriForum-tak ’n afskrif ontvang het. Daar word prosesse in plek gestel wat in die begroting aandag kry.

“Ons is dankbaar dat mnr. Mokhatla en sy span bereid is om saam met AfriForum te werk om hierdie probleem in ons dorp te beveg. Ons wil ook vir die gemeenskap vra om nie net probleme wat hulle persoonlik raak te rapporteer nie. As jy ’n probleem elders in die dorp sien, meld dit asseblief aan. Só vorm ons ’n sterker span wat die probleme die hoof kan bied. Ek wil ook vir Lieb Venter bedank vir die goeie werk wat hy doen om van Potchefstroom ’n beter plek te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN