Die AfriForum-tak in Potchefstroom het in Mei slaggate in 22 strate gevul. Vier dromme bitumen (840 liter) en 12,75 ton teer (511 sakkies) is gebruik om dié 349 slaggate te vul.
Die gemeenskap van Potchefstroom is uitgenooi om ’n bydrae te maak sodat teer aangekoop kan word. Wanneer ’n bydrae gemaak is, kon die betrokke persoon dan ook ’n straat nomineer waar die tak slaggate moes vul.
“Ek wil graag die gemeenskapslede bedank vir hulle vrygewige skenkings, asook diegene wat hulp aangebied het in die vorm van verversings vir die vrywilligers wat slaggate gevul het,” sê Kappie van Wyk, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak. “Ek wil veral die slaggatspan onder leiding van Dirk Venter bedank vir julle bereidwilligheid om hierdie reusetaak aan te pak.”
“Ek is trots op die vrywilligers wat so ’n groot verskil maak om ons mooi dorp weer meer toeganklik te maak. Inwoners moet onthou dat hierdie mense dit in hul vryetyd doen. Dit is nie hulle werk nie en hulle kry geen vergoeding nie, wat die hele poging nog meer besonders maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Mooirivier.
Raak by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 072 314 1774 om aan te sluit of vir Dirk Venter by 082 953 3155 om van hulp te wees met die slaggatprojek.