AfriForum se Nylstroom-tak het vroegoggend op 23 Maart begin om slaggate in dié dorp te vul. Die tak het die slaggatprojek in Oktober 2020 afgeskop vir die #OnsDorp-projek en het reeds R14 000 se teer aangekoop.
“Die munisipaliteit versuim om die dorp netjies en die paaie in stand te hou. Die slaggate is ’n geweldige veiligheidsrisiko vir motoriste in Nylstroom. Daar waar die munisipaliteit nie hulle werk doen nie sal AfriForum toetree om die gemeenskap te help,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om by die inisiatief betrokke te raak sodat daar selfs ’n groter verskil in die gemeenskap gemaak kan word.
“Hierdie projek se fokus is om die gemeenskap te help. Slaggate word veral rondom skole en in hoofstrate reggemaak. Daarna sal dit na die woonbuurte uitgebrei word,” sê James van Zyl, voorsitter van AfriForum se Nylstroom-tak.
Om by AfriForum se Nylstroom-tak aan te sluit, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).