Header Artwork
AfriForum se Klerksdorp-tak plaas munisipaliteit op terme oor haglike toestand van rioolwerke

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 5 Augustus 2021 ’n dringende skrywe aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor die haglike toestand van die dorp se rioolwerke. Die feit dat die meeste van die masjiene by die rioolwerke nie werk nie, het tot gevolg dat onverwerkte riool direk in Schoonspruit invloei en die omliggende woonbuurte en boere nadelig raak. Daar is boere wat reeds vee verloor het weens die rioolbesoedeling in die water.

Dié AfriForum-tak het watermonsters by die invloei vanaf die rioolwerke in Schoonspruit geneem en die uitslae dui daarop dat die E. coli-telling te hoog is om te meet. Daar is ’n ontmoeting met die munisipaliteit gereël by die rioolwerke, waar AfriForum ’n kenner op die terrein aangestel het om die rioolwerke te evalueer. Die rioolwerke kan weer herstel word tot ’n werkende toestand vir sowat R10 miljoen.

Die munisipaliteit het tot 11 Augustus 2021 om op AfriForum se skrywe te reageer, anders sal die organisasie genoop wees om ’n hofbevel te bekom om die munisipaliteit te dwing om die werk te doen. Alternatiewelik sal AfriForum ’n kontrakteur aanstel om die werk te doen en die geld van die munisipaliteit te verhaal.

Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, sê dit is onaanvaarbaar dat daar toegelaat word dat rou riool in Schoonspruit vrygelaat word. “Die munisipaliteit moet tot verantwoording geroep word en begin om hulle pligte na te kom.”

“AfriForum sal hierdie saak nie laat gaan nie. Dit is onaanvaarbaar dat ons spruite en riviere so besoedel word. Ons vra lede van die gemeenskap om dergelike sake onder ons aandag te bring,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die stryd om landwye munisipale verval te keer en teen te werk is in volle swang. “Klerksdorp en die omliggende areas is geweldig belangrik vir die streek en provinsie se welvaart en ons sal alles in die stryd werp om te verseker dat die munisipaliteit sy verantwoordelikhede aan die gemeenskap nakom.”

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om die munisipaliteit tot verantwoording te roep. Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN