Header Artwork
AfriForum se Kaapstad-metrotakke #VegEnBou

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 19 Mei 2021 dié organisasie se suksesvolle #VegEnBou-projek in die Kaapstad-metro afgesluit. Die AfriForum-takke in die metro het talle opheffingsprojekte in Mei aangepak.

Die Helderbergkom-tak en -buurtwag het in samewerking met AfriForum Jeug die Dirkie Uys Monument in Somerset-Wes skoongemaak. Hulle het die omgewing om die monument skoongemaak en die monument met ’n drukspuit skoongespuit om van die graffiti ontslae te raak.

“Dit is skokkend om te sien hoe ons erfenisterreine agteruitgegaan het en net so gelaat word om verder te verval. AfriForum sal aanhou om eienaarskap van ons erfenisterreine te neem en dit te beskerm,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het ook verskeie projekte by die Paarl Skool in Brackenfell aangepak en onder meer twee appelkoosbome aan dié skool geskenk en dit plant. Die tak het ook ’n tuinslang met die nodige koppelinge, ’n 10 000 liter-watertenk en saailinge vir die skool se landbouprojek geskenk. Die saailinge en vrugtebome is deel van die landbouprojek wat as vak in werksvoorbereiding by dié skool aangebied word.

Die Kaapstad-Noord-tak het ook ’n klimraam aan die koshuis geskenk en in samewerking met leerders van Hoërskool Brackenfell verskeie klimrame en speelapparate vir die Paarl Skool se grondslagfase afgeskuur en oorgeverf.

“Dis vir ons ’n voorreg om by die Paarl Skool betrokke te wees. Ons plan is om op te bou en nie af te breek nie; om ’n kultuur van selfdoen te skep en leerders toe te rus met kennis wat hulle in die toekoms kan help,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.
Die Kaapstad-Noord-tak het hul werksaamhede op 19 Mei 2021 afgesluit met ’n skoonmaakprojek by die Sopieshoogte Erfenisterrein in Goodwood. Hulle het onkruid uitgetrek en verwyder, en die monument oorgeverf.

“Dié projekte is moontlik gemaak deur vrywilligers en taklede, wat alles met ’n positiewe gesindheid aangepak het. Hulle neem eienaarskap en verantwoordelikheid vir hul gemeenskap en omgewing, en dit is wat tot die sukses van hierdie aksies bygedra het,” sluit Van Heerden af.

Raak by hierdie aktiewe AfriForum-takke betrokke en word deel van die verskil: SMS jou dorp se naam na 45265 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN