Header Artwork
AfriForum se Bothaville-tak vergader met munisipale bestuurder

 Twee AfriForum-lede het op 25 Februarie ’n suksesvolle vergadering met Nokufa Radebe, waarnemende munisipale bestuurder van die Nala Plaaslike Munisipaliteit, in Bothaville gehad. Willie Prinsloo, voorsitter van die AfriForum-tak in Bothaville, en Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het tydens dié vergadering probleme voorgelê wat inwoners ondervind en ’n helpende hand na die munisipaliteit uitgereik.

Die vernaamste probleme wat bespreek is, sluit in riool, die plaaslike vullisterrein, stormwaterslote, slaggate, onsigbare brandkrane is en stukkende straatligte.

Radebe het onderneem om ondersoek in te stel en die rioolprobleem op te los. Riool vloei in die Valsrivier, veral nadat munisipale werkers ’n voor gegrawe het. ’n 1,6 km-pyp is toegestaan wat in die nuwe boekjaar geïnstalleer sal word om die riool na die rioolwerke te lei.

Die dorp se vullisterrein is in ’n haglike toestand en volgens AfriForum se vullisterreinoudit – waarvan die uitslae later bekendgemaak sal word – voldoen dit aan geen vereistes nie. Boonop veroorsaak die swak toestand van die vullisterrein dat inwoners die dorp in ’n vullisterrein omskep het, wat dus in ’n soortgelyke haglike toestand is. AfriForum het versoek dat regulasies afgekondig moet word sodat oortreders beboet kan word. Radebe het onderneem dat stootskrapers binne ’n week ingestuur sal word om die terrein op te knap. ’n Nuwe vullisterrein word ook beoog. Die regulasies behoort einde Maart in werking gestel te word en AfriForum hou die vordering hiermee dop.

Die slaggate in Bothaville veroorsaak dat sommige strate onbegaanbaar is. Radebe het belowe dat daar teer bestel is en die herstel van slaggate binne die volgende week ’n aanvang sal neem. Die AfriForum-tak het sy hulp in hierdie verband aangebied. Radebe het ook gesê dat daar ’n program is om die verstopte stormwaterslote te herstel wat verspoelings veroorsaak.

Die AfriForum-tak het ook toestemming gekry om die brandkrane op te spoor en oop te grawe. Verskeie van die dorp se brandkrane is oorgroei en ongemerk, wat al veroorsaak het dat huise afbrand omdat water nie beskikbaar was nie. Daar sal dan in samewerking met die munisipaliteit verdere aksie geneem word.

Die tak het ook toestemming gekry om die dorp se gras te sny. Hulle sal by die hospitaal en parke in die dorp begin om die algehele netheid te verbeter. Die tak versoek Inwoners om met Prinsloo te skakel om betrokke te raak.

“Me. Radebe het ons goed ontvang. Ons besef dat daar groot uitdagings in die munisipaliteit is, maar hulle ontvang geld om dienste te lewer. AfriForum gaan die munisipaliteit verantwoordelik hou. Ons is bereid om te help, maar die verantwoordelikheid vir dienste is steeds die munisipaliteit s’n. Ek wil graag ’n beroep op inwoners doen om die regte ding te bly doen en hulle nie aan rommelstrooi en ander misdrywe skuldig te maak nie. Hou jou eie erf en sypaadjie in stand, dan lyk dit reeds beter. As elkeen sy beskeie deel bydra, gaan Bothaville al klaar netjieser wees,” sê Pretorius.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by takprojekte betrokke te raak: SMS “Bothaville” na 31481 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN