Header Artwork
AfriForum: Munisipaliteit-ondersoek na waterkrisis hopeloos te laat 

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om stappe te doen teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nadat dié streek vir die afgelope paar maande onder watertekorte gebuk gegaan het en sommige dele selfs géén water gehad het nie.  

AfriForum het weer ’n dringende skrywe aan die munisipaliteit gerig. In antwoord hierop het die munisipale bestuurder se administrateur geantwoord dat die munisipale bestuurder ’n ondersoek gelas het en nou wag dat die verslag wat aan hom voorgelê word. Die skrywe is ook aan sowel die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake as die Departement van Water en Sanitasie gestuur.  

“Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit faal jammerlik in die verskaffing van voldoende drinkwater aan die inwoners van Parys, Schonkenville en Tumahole. Daar is inwoners wat al tussen 10 dae en twee weke lank sonder ’n druppel water in hul krane sit. ’n Ondersoek en verslag is te laat – die mense kort water,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.   

Die COVID-pandemie word dikwels as verskoning aangevoer omdat munisipale amptenare siek is. “Dit is te verstane. Mens wonder egter of die gebrek aan water nie tot die ellende bydra nie, want sommige inwoners het bloot nie water om hul hande mee te was nie,” voeg Pretorius by.  

Die gebrek aan kommunikasie vanaf die munisipaliteit vererger die situasie. Die meeste kommunikasie kom van die raadslede, maar hulle sukkel ook om inligting te kry. Inwoners wat aan beurtwater onderworpe is, sal kan beplan as hulle ’n rooster het om te kan sien wanneer hulle water gaan hê of nie.  

“Water is ’n basiese reg wat duidelik in die Grondwet beklemtoon word. Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is dus besig om te oortree. As die munisipaliteit nie erken dat daar ’n groot probleem is nie, is daar nog geen oplossing in sig nie. Die inwoners is keelvol en moedeloos, en só gaan die dorp inwoners en besoekers verloor,” sluit Pretorius af. 

Die plaaslike AfriForum-tak het ’n noodwaterpunt by die N.G. Kerk Suid beskikbaar. Mense kan op weeksdae tussen 08:00 en 15:00 gaan water haal. Dit is egter uitsluitlik vir wasdoeleindes en nie vir drinkwater nie.  

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak. SMS “Parys” na 45344 (R1).  

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN