Header Artwork
AfriForum en Frankfort-gemeenskap slaag met dringende hofaansoek; Mafube Plaaslike Munisipaliteit moet rioolstorting regstel

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die gemeenskap van Frankfort op 29 Julie 2021 in ’n dringende hofaansoek teen die Mafube Plaaslike Munisipaliteit bygestaan met betrekking tot die onwettige storting van riool. Dié aansoek was suksesvol en die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het ’n interdik teen die munisipaliteit toegestaan, asook ingrypende regshulp ten gunste van die gemeenskap.

Volgens Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het die hof beveel dat enige rioolstorting wat spesifiek die Wilgerivier beïnvloed, verhoed moet word. Die munisipaliteit moet ook watermonsters by die rioolwerke neem en die resultate aan die gemeenskap beskikbaar stel.

Die bevel bepaal verder dat die munisipaliteit die nodige onderhoud en herstelwerk op die rioolstelsels moet verrig, gereeld inspeksie van die werke moet doen en enige operasionele krisisse by die werke spoedig moet hanteer sonder onnodige vertraging. Ten einde verdere onderbrekings in die kragtoevoer tot die werke te vermy is daar gelas dat die munisipaliteit sy Eskom-rekeninge betyds moet betaal.

Die munisipaliteit word ook verplig om elke twee weke vir ’n tydperk van ses maande lank aan die applikant se prokureurs verslag te lewer oor die vordering en indien hulle sou versuim om hul pligte ingevolge die hofbevel na te kom sal die applikant die reg hê om die hof weer te nader vir verdere verligting.

“Die munisipaliteit het erken dat hulle bewus is van hulle grondwetlike verpligting om rioolstorting te vermy en die stelsel te onderhou.  Tog was die gemeenskap genoodsaak om die hof te nader as gevolg van riool wat weke lank in die Wilgerivier ingeloop het. Die feit dat die munisipaliteit tweeweekliks vir die volgende ses maande aan die gemeenskap moet rapporteer oor die vordering ingevolge die hofbevel, bevestig die belangrike oorsigrol van gemeenskappe wanneer dit kom by munisipale dienslewering,” sê Morgan verder.

Morgan voeg by dat die dringende hofbevel wat bekom is ’n groot deurbraak vir die gemeenskap van Frankfort was omdat dit noodsaaklik vir die gemeenskap is om tussentydse verligting te bekom terwyl die hoofdiensleweringsaansoek nog hangend in die hof is.

“AfriForum is trots daarop om die gemeenskap te kon ondersteun om hierdie kwessie te verlig. Onwettige rioolstorting hou nie net ’n gesondheidsrisiko vir die gemeenskap in nie, maar die skade wat dit aan die omgewing en belangrike ekostelsels aanrig is onaanvaarbaar.”

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om by hulle naaste AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende druk op die owerhede te plaas om hul verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom. Sluit vandag nog aan: SMS “Riool” na 45344 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN