AfriForum het geld bewillig vir dringende herstel- en restourasiewerk aan die historiese Totiushuismuseum in Potchefstroom. ’n Brandgevaar het die museum bedreig weens verouderde elektrisiteitsbedrading. Dit is herstel en spreiligte is ook aangebring vir beter veiligheid. Die stoepreling van hout en waterskade aan die buitemuur word ook nou herstel. Dit is belangrik dat die museum vir die nageslag bewaar word aangesien dit ’n belangrike baken in die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk en Afrikaans is. Prof. Jacob Daniel du Toit (Totius), wat ’n belangrike rol in die vertaling van die Bybel in Afrikaans gespeel het en as digter onthou word, het in 1911 as rektor van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in die huis ingetrek.