Header Artwork
AfriForum en Solidariteit Helpende Hand nader hof oor verbod op godsdienstige byeenkomste

AfriForum en Solidariteit Helpende Hand het vandag die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg op ’n dringende grondslag genader om die verbod op godsdienstige byeenkomste soos vervat in die COVID-19-regulasies tersyde te stel. Die Begrond-instituut en individuele gemeentes van verskeie kerke vorm ook deel van dié aansoek.

Onder die huidige vlak 3-inperkingsregulasies word alle godsdienstige byeenkomste, insluitend kerkdienste, verbied. Dié regulasies is vroeër vandeesmaand weer ingestel weens die tweede vlaag COVID-19-infeksies.

AfriForum en Helpende Hand is egter van mening dat dié regulasie inbraak maak op burgers se reg tot geestelike welstand. In hul hofstukke vra dié twee organisasies dat die verbod tersyde gestel word om godsdienstige byeenkomste toe te laat mits daar aan riglyne voldoen word om die verspreiding van die virus te voorkom. Alternatiewelik vra die organisasies dat godsdienstige byeenkomste toegelaat word met beperkinge wat nie strenger is nie as dié van teaters, kasino’s, gimnasiums, restaurante en so meer.

“Dit is verregaande dat kasino’s, rolprentteaters, gimnasiums en ander instellings toegelaat word om onder sekere voorwaardes bedryf te word, maar lidmate van kerke word verbied om dienste by te woon. Dit is burgers se volste reg om hul geloof vry en sonder vrees te beoefen. Ons voorouers het baie opgeoffer om hul geloof volgens eie oortuiging te kan beoefen, ons kan nie toelaat dat gelowiges dié reg eensydig deur die owerheid ontneem word nie,” sê Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit was van die begin af duidelik dat ’n maatskaplike krisis op die ekonomiese krisis sou volg. “Die maatskaplike krisis het reeds begin. ’n Mens kan egter nie só ’n krisis hanteer sonder om mense geestelik te voed en te versterk nie, en die kerke speel ’n prominente rol daarin, ongeag van die kerk se denominasie.”

“Ons besef mense moet veilig en verantwoordelik wees, kerke ook, maar kerke moet die vryheid hê om sonder vrees vir die regering te kan kerk hou of self te besluit. Hulle moenie die regering vrees nie. Kerkrade en -besture is verantwoordelik genoeg om veilig en versigtig byeen te kom al dan nie. Die regering moenie die mag hê om te besluit of kerke oop of toe is nie,” sê Noëth.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN