Header Artwork
AfriForum eis vorderingsverslag oor ondersoek na gelekte vraestelle

AfriForum het vandag in ’n prokureursbrief aan Angie Motshekga, die minister van Basiese Onderwys, ’n vorderingsverslag versoek oor die ondersoek na die twee gelekte 2020-matriekeindeksamenvraestelle. Dít volg nadat die burgerregteorganisasie, asook ander applikante op 11 Desember 2020 ’n suksesvolle aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria gebring het dat Motshekga se besluit – wat behels dat alle matrikulante die gelekte vraestelle moet herskryf – tersyde gestel word.

Dit volg nadat die eindeksamenvraestel in sowel Wiskunde II as Fisiese Wetenskap II in November 2020 uitgelek het en die departement gelas het dat alle matrikulante die eksamen moet oorskryf – ondanks die feit dat daar op daardie stadium slegs ’n voorlopige ondersoek gedoen is. Regter Norman Davis het egter beslis dat hierdie besluit onredelik is.

Volgens Natasha Venter, bestuurder van onderwysregte by AfriForum, beteken dit egter nie dat die ondersoek nou net onder die mat ingevee kan word nie. “AfriForum wil verseker dat die integriteit van die 2020-matrieksertifikaat bo verdenking is en die oortreders verantwoordbaar gehou word. Ons wil daarom weet waar die ondersoek trek, of daar al enige verdere verdagtes geïdentifiseer is en of die ondersoek afgehandel sal wees voordat Umalusi teen einde Februarie 2021 die matrieksertifikate moet akkrediteer.”

Dit is reeds meer as twee maande sedert die vraestelle uitgelek het en meer as ’n maand het sedert die hofuitspraak verloop. “Dit is nou tyd dat die departement terugvoer gee oor die vordering met die ondersoek. Die skuldige partye moet aan die pen ry om te verseker dat die integriteit van die matrieksertifikaat bo verdenking is, asook om as voorbeeld te dien sodat hierdie tipe bedrog nie sommer weer sal plaasvind nie,” sê Venter.

AfriForum het ook in die brief aangedui dat die burgerregteorganisasie wéér die howe sal nader indien Umalusi weier om die 2020-matrieksertifikaat te akkrediteer as gevolg van ’n gebrekkige ondersoek om die skuldige partye vas te trek en die omvang van die lekkasie van die vraestelle vas te stel.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN