Header Artwork
AfriForum dien kommentaar in teen voorgestelde wysigings aan Polisiewet

AfriForum het vandag kommentaar ingedien teen die beoogde wysigings aan die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995 (die Polisiewet).

Die wysigings het ten doel om die Polisiewet tot so mate te wysig dat die minister van polisie onder meer die mag het om ’n gedragskode neer te lê waaraan alle buurtwagte moet voldoen. Voorts word die verspreiding van inligting onredelik gereguleer, en word die verspreiding van inligting onder sekere omstandighede as ’n vervolgbare misdryf geag. Die wetstoepassingsowerhede se vermoë om eiendom te beskerm word ingeperk, en outomatiese aanvalsgewere mag nie vir wetstoepassingsdoeleindes gedurende onluste teenwoordig wees nie.

“Die voorgestelde wysigings maak inbreuk op verskeie grondwetlike regte wat gewaarborg word aan burgers van Suid-Afrika, waaronder die reg op vryheid van assosiasie en die reg op vryheid van uitdrukking. Met geweld en misdaad wat burgers teister, veral in plattelandse gemeenskappe, is dit ondenkbaar om plaaslike buurtwagte aan bande te lê. Dit kan vrywilligers ontmoedig om deel van die oplossing te wees en om misdaad saam met die SAPD te beveg,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum is reeds besig om regsadvies in te win, en om verdere stappe te oorweeg ingeval daar nie op die ingediende kommentaar ag geslaan word nie.

“Die beoogde inperking op die deel van inligting kan ook verreikende gevolge inhou weens die feit dat burgers sal huiwer om boodskappe te deel uit die vrees dat dit moontlik vals kan wees, en die verspreider kan dan aanspreeklik gehou word. Informasie wat weerhou word weens vrees kan wesenlike gevolge inhou vir misdaadvoorkomingsaksies,” sluit Kamfer af.

Belanghebbendes en diegene wat kommentaar teen die voorgestelde wysigings wil indien het tot 15 November 2020 en kommentaar kan aan comments.bill@csp.gov.za gestuur word.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN