Header Artwork
AfriForum dien hofstukke in teen Rand Water

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag hofstukke teen Rand Water ingedien in ’n poging om dié entiteit te dwing om voldoende watertoevoer na gemeenskappe in Emfuleni te herstel.

Gemeenskappe in Emfuleni ervaar sedert Februarie vanjaar ernstige waterprobleme weens ’n verlaging in die waterdruk. Rand Water het dié verlaging in die waterdruk ingestel as ’n kredietbeheermaatreël weens wanbetaling deur die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit. Dié munisipaliteit het al telkemale betalingsooreenkomste met Rand Water verontagsaam en skuld Rand Water reeds meer as R1 miljard.

Die plaaslike munisipaliteit het luidens berigte die huidige rekening teen einde Maartmaand betaal, maar Rand Water het nie die waterdruk herstel nie. Huishoudings sukkel om basiese huishoudelike take te verrig weens die tekort aan water. Sommige gebiede in Vanderbijlpark het tans geen water nie en die gemeenskap is afhanklik van watertenks waarmee water aangery word. Die verlaagde waterdruk het ook ’n impak op plaaslike ondernemings in dié dorp.

AfriForum het dus besluit om in te gryp en vra in sy hofstukke dat Rand Water gedwing word om onmiddellik watertoevoer na Emfuleni te herstel. Die organisasie vra ook dat Rand Water verhoed word om in die toekoms waterdruk te verlaag as kredietbeheermaatreël.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, skend Rand Water die gemeenskap van Emfuleni se basiese mensereg tot toegang tot water. “Dit is belangrik dat ons die gemeenskap ondersteun totdat die waterdruk herstel word. Die gemeenskap het genoeg gehad van wanbestuur tot op die punt waar hul reg tot basiese dienslewering ontneem word.”

Maak vandag nog ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap en sluit by jou plaaslike AfriForum-tak aan: SMS jou naam na 45342 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN