Header Artwork
AfriForum dankbaar oor onskuldigbevinding van Coligny-2

Deur Alet Rademeyer

Phillip Schutte en Pieter Doorewaard van Coligny is vandag in die Appèlhof in Bloemfontein onskuldig bevind aan alle aanklagte teen hulle.

Regter Ronnie Hendricks het hulle vroeër in die Sonneblomsaak skuldig bevind aan moord op die tiener Matlhomola Moshoeu. Hulle het daarna spesiale verlof gekry om direk by die Appèlhof in Bloemfontein te kan appelleer teen hul skuldigbevinding.

AfriForum het die mans bygestaan en die koste vir die Appèlhof betaal. Adv. Barry Roux het die mans verteenwoordig.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie is dankbaar oor die mans se onskuldigbevinding.

“Die feit van die saak is dat AfriForum van die begin af gesê het dat die staat se enigste getuie, Bonakele Pakisi,  leuens vertel het en daarom het ons die mans bygestaan. Ons het in hul onskuld geglo en geregtigheid het vandag geskied.”

Die mans was 13 maande in aanhouding voordat hulle op borgtog van R20 000 elk vrygelaat is.

Pieter Karsten, Doorewaard se oom, het vroeër gesê hulle het deurentyd in die mans se onskuld geglo. “Daar is geen manier dat die duisternis van ’n leuen die lig van die waarheid sal oorskadu nie,” het hy gesê.

Ds. Tewie Pieters van Coligny, wat ’n leidende rol gespeel het om versoening en verdraagsaamheid in die gemeenskap te bewerkstellig ná die voorval, het ook vroeër gesê: “Ons glo in hul onskuld. Dit is jammer en tragies dat die regsproses die pad moes loop waar ’n hof in Bloemfontein dit anders sien as die een in Mahikeng.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN