Header Artwork
AfriForum besorgd oor vlak 3-regulasies wat kinders teiken

AfriForum het op 21 Januarie 2021 ’n skrywe gerig aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, waarin die burgerregteorganisasie daarop aangedring dat die vlak 3-regulasies – wat op 11 Januarie 2021 in die Staatskoerant gepromulgeer is – gewysig word om kinders onder die ouderdom van tien jaar teen moontlike verkeerdelike strafregtelike inhegtenisname en vervolging te beskerm.

Regulasie 34 van dié regulasies bepaal dat dit verpligtend is vir elke persoon ouer as ses jaar om in die openbaar ’n masker te dra wat sowel die neus as mond bedek. Dit bepaal verder dat enige persoon wat versuim om te voldoen aan die mondelingse opdrag van ’n wetstoepassingsbeampte om só ’n masker te dra, hulself aan ’n misdryf skuldig maak en ’n boete, tronkstraf of beide opgelê kan word.

Die skrywe wat aan Dlamini-Zuma gestuur is, beklemtoon die feit dat artikel 7 van die Kindergeregtigheidswet 75 van 2008 spesifiek bepaal dat ’n kind onder die ouderdom van tien jaar nie oor die bevoegdheid beskik om ’n strafregtelike misdryf te pleeg nie, en dus nie vir enige strafregtelike oortreding vervolg kan word nie.

“Dit is kommerwekkend dat die regulasies indruis teen bestaande wetgewing in dié verband. Dit skep onsekerheid by die wetstoepassingsbeamptes wat die regulasies moet afdwing, en kan tot gevolg hê dat kinders jonger as tien jaar weens die oortreding van die regulasies in hegtenis geneem word,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Bheki Cele, minister van Polisie, het op 12 Januarie 2021 aangekondig dat 7 000 mense reeds in hegtenis geneem is omdat hulle nie maskers gedra het nie.

“Lede van die wetstoepassingsowerhede het gedurende die ramptoestand hulself keer op keer skuldig gemaak aan die onregmatige inhegtenisname van persone wat na bewering die regulasies oortree het. Ondeurdagte, onduidelike regulasies kan veroorsaak dat hierdie optrede meer voorkom en dat kinders jonger as tien jaar direk geraak kan word. Dit blyk of Cele aan vervolgingsbeheptheid ly. Dit is jammer dat die staat in sy magsbeheptheid selfs inbreuk maak op die beste belang van kinders,” sluit Kamfer af.

AfriForum moedig ouers aan om dié organisasie te kontak as hul kinders wat jonger as tien jaar is ingevolge dié regulasies in hegtenis geneem is en/of vervolg word.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN