Header Artwork
AfriForum besoek Laerskool Muldersdrif as deel van nasionale kinderbeskermingsweek   

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het Laerskool Muldersdrif op 2 Junie 2021 besoek as deel van nasionale kinderbeskermingsweek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole verseker ook veilige gemeenskappe – nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“As ’n waardegedrewe Afrikaanse skool streef ons by Laerskool Muldersdrif na eerlikheid, selfbeheersing, deursettingsvermoë, pligsgetrouheid, verantwoordelikheid en respek teenoor ander. Daarom is hierdie projek vir ons van soveel waarde,” sê Herman Byleveld, hoof van Laerskool Muldersdrif.

“Laerskool Muldersdrif poog om leerders bewus te maak van wat afknouery werklik beteken en moedig hulle aan om nie stil te bly nie. Leerders het ’n wanindruk van die betekenis. Boonop word kinders ook deesdae weens sosiale media so maklik slagoffers van afknouery. Daarom ondersteun ons AfriForum se teenboelieveldtog en waardeer hul bereidwilligheid om saam met ons teen hierdie onaanvaarbare gedrag te veg,” sê Johané van Niekerk, ’n onderwyseres by die Laerskool Muldersdrif.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN