Header Artwork
Geen basis waarop munisipale verkiesing uitgestel kan word nie, sê AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat daar geen juridiese of feitegrondslag bestaan om die munisipale verkiesing uit te stel nie. Dit vorm deel van AfriForum se aansoek aan die Konstitusionele Hof om as vriend van die Hof (amicus curiae) toegelaat te word. Hierdie aansoek sal Vrydag 20 Augustus virtueel deur die Konstitusionele Hof aangehoor word.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture dit eens dat die munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie. “Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet daarom binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn ’n verkiesing hou. Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar min (indien enige) beweegruimte vir ’n hof is om ’n uitstel van die verkiesing ná 1 November 2021 te gelas.”

Volgens hom toon COVID-19-modelle dat 27 Oktober, wat die huidige datum vir die verkiesing is, in ’n veilige tyd tussen twee virus-golwe sal val. “Hoewel daar streng protokol oral in plek moet wees tydens die verkiesing, het die OVK reeds voor oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke se aanbeveling dat die verkiesing uitgestel word, aangedui dat hulle gereed is om die verkiesing op 27 Oktober by 23 000 kiesstasies veilig te laat plaasvind. Dus kan dit dan gehou word, want enige toekomstige datums het ook die potensiaal om problematies te wees weens die pandemie.”

Mostert glo die bevolking moet die kans gegun word om die samestelling van hul munisipale rade te wysig.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering by AfriForum, sê dit is geen geheim nie dat die toestand van meeste munisipaliteite beroerd is. “Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag, soos die voriges, toon onrusbarende tendense met min om te vier waar verbetering ter sake is. Enkele ekstra skoon oudits kan nie vergoed vir die verskriklike agteruitgang en die feit dat slegs 10% van munisipaliteite skoon oudits ontvang nie. Onreëlmatige besteding is ook steeds baie hoog en daar bestaan ernstige twyfel oor of meer as ’n kwart van munisipaliteite as lopende sake kan bly voortbestaan.”

“Dit is daarom belangrik dat nuwe munisipale rade so gou moontlik verkies word en hul prosesse nie sloer nie. Dit is nie toevallig dat die ANC en EFF ook die uitstel steun nie, want hul brouwerk kan hulle stemme kos. Daar moet ook gekeer word dat die regerende party die OVK onbehoorlik beïnvloed en daardeur wetgewing ondermyn. Dit kan ’n gevaarlike presedent skep.”

Volgens Brink het sowat 130 lande tussen Februarie 2020 en Julie 2021 veilige verkiesings gehou en daar is in hierdie tyd verskeie tussenverkiesings in Suid-Afrika gehou. “Mense staan daagliks in rye by winkels of om hul toelaes te ontvang. Die proses moet veilig wees en baie kieslokale is buitendien nie stampvol nie.”

Volgens Mostert gaan die uitstel van die verkiesing bloot nuwe uitdagings teweeg bring en nie die feit verander dat die verkiesing wel gehou moet word nie. ’n Vierde golf kan byvoorbeeld weer voorbereiding vir ’n latere verkiesing in die wiele ry.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN