Header Artwork
Uitstel van verkiesing sal dienslewering verder benadeel

Deur Alet Rademeyer

Daar is geen juridiese of feitegrondslag waarom die munisipale verkiesing uitgestel behoort te word nie.

Dié argument vorm deel van AfriForum se aansoek in die Konstitusionele Hof om as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat te word in die saak waarin die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en ander respondente vra dat die verkiesing van 27 Oktober tot aanstaande jaar uitgestel moet word.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum.

 

Opposisiepartye soos die DA en VF Plus staan dié aansoek, wat Vrydag 20 Augustus virtueel aangehoor word, teen.

Die OVK het hom tot die hof gewend nadat oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke vroeër in ’n ondersoek, namens die OVK, bevind het dat die verkiesing in die lig van die COVID-19-pandemie nie vry, veilig en regverdig gehou kan word nie.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture dit eens dat die munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie. “Die OVK móét daarom binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn ’n verkiesing hou. Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar min (indien enige) beweegruimte vir ’n hof is om ’n uitstel van die verkiesing ná 1 November 2021 te gelas.”

Volgens Mostert toon COVID-19-modelle dat die huidige datum vir die verkiesing in ’n veilige tyd tussen twee virus-golwe sal val. “Hoewel daar streng protokol oral in plek moet wees tydens die verkiesing, het die OVK reeds voor Moseneke se aanbeveling dat die verkiesing uitgestel word, aangedui dat hulle gereed is om die verkiesing op 27 Oktober by 23 000 kiesstasies veilig te laat plaasvind. Dus kán dit dan gehou word, want enige toekomstige datums het ook die potensiaal om problematies te wees weens die pandemie.”

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

 

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het verlede week in ’n aanlyn-nuuskonferensie gesê indien die verkiesing uitgestel word, sal dit ’n grondwetlike krisis veroorsaak.

Sy meen indien die verkiesing nie ingevolge die bepalings van die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering plaasvind nie, die Grondwet gewysig sal moet word en daarvoor is ’n 75% meerderheidstem in die parlement nodig.

Zille meen ’n reuse presedent sal ook geskep word indien die Konstitusionele Hof hom nou die mag toeëien om die Grondwet te wysig deur die voorwaardes te omseil wat die Grondwet neerlê om die vereiste meerderheid in die parlement te behaal.

Volgens Zille het die opstellers van die Grondwet dit doelbewus moeilik gemaak om die gereeldheid van die verkiesings te verander juis omdat daar ’n gevaar bestaan dat die regerende party hom in die reël van verkiesings kan inmeng.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering by AfriForum, sê dit is geen geheim dat die toestand van meeste munisipaliteite beroerd is nie. “Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag, soos die voriges, toon onrusbarende tendense met min om te vier waar verbetering ter sake is. Enkele ekstra skoon oudits kan nie vergoed vir die verskriklike agteruitgang en die feit dat slegs 10% van munisipaliteite skoon oudits ontvang nie. Onreëlmatige besteding is ook steeds baie hoog en daar bestaan ernstige twyfel oor of meer as ’n kwart van munisipaliteite as lopende sake kan bly voortbestaan.

“Dit is daarom belangrik dat nuwe munisipale rade so gou moontlik verkies word en hul prosesse nie sloer nie. Dit is nie toevallig dat die ANC en EFF ook die uitstel steun nie, want hul brouwerk kan hulle stemme kos. Daar moet ook gekeer word dat die regerende party die OVK onbehoorlik beïnvloed en daardeur wetgewing ondermyn. Dit kan ’n gevaarlike presedent skep.”

AfriForum is van mening dat kiesers die grondwetlike reg het om binne die bepalings van die Grondwet die geleentheid moet kry om te kan stem om van swak raadslede ontslae te raak en nuwe raadslede te verkies wat daartoe verbind is om toe te sien dat dienste gelewer word.

Volgens Brink het sowat 130 lande tussen Februarie 2020 en Julie 2021 veilige verkiesings gehou en daar is in hierdie tyd verskeie tussenverkiesings in Suid-Afrika gehou. “Mense staan daagliks in rye by winkels of om hul toelaes te ontvang. Die proses moet veilig wees en baie kieslokale is buitendien nie stampvol nie.”

Volgens Mostert gaan die uitstel van die verkiesing bloot nuwe uitdagings teweeg bring en nie die feit verander dat die verkiesing wel gehou moet word nie. ’n Vierde golf kan byvoorbeeld weer voorbereiding vir ’n latere verkiesing in die wiele ry.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN