AfriForum se Bethal-tak en Why Wait Skip IT het op Vrydag 11 Junie self ’n gebied in dié dorp begin skoonmaak ná rommel onwettig gestort is.
Die veld langs Malherbestraat is skoongemaak nadat sommige inwoners hul rommel daar begin stort het. Die inwoners het sakke vol rommel bloot daar afgelaai, vermoedelik weens swak dienslewering deur die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit.
Why Wait Skip IT is intussen aangestel om weekliks asblikke in die dorp skoon te maak. Die kontrakteur sal weekliks die 30 AfriForum-asblikke in die dorp skoonmaak en die rommel verwyder.
Die tak het verder gehelp om die Bethal-polisiestasie se asdrom te verwyder en die rommel weg te ry met die hulp van die pas aangestelde kontrakteur. Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit het eenvoudig versuim om die rommel te verwyder.
Die dorp is onlangs ook weereens sonder water gelaat. AfriForum het inderhaas met ’n boer gereël om op Saterdag 12 Junie water by die waterpunt by die AC Kerk af te lewer.
“Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se swak dienslewering veroorsaak dat al hoe meer dienste deur die burgery van Bethal gedoen moet word. Hulle is amper heeltemal lam gelê en inwoners word met geen ander keuse gelaat as om self te begin doen nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.
Maak vandag nog ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap: sluit aan by AfriForum se Bethal-tak deur “Bethal” te SMS na 45340 (R1).