Header Artwork
AfriForum se Moot-tak werk saam met ander rolspelers om gesondheidswerkers te bederf

AfriForum se Moot-tak het onlangs met Brewers BBQ en Groot FM saamgespan om vir gesondheidswerkers in plaaslike hospitale ’n maaltyd, ’n bietjie omgee en hoop te gee. Dié drie rolspelers het ’n projek begin waar die publiek ’n geskenkbewys teen R55 by enige Brewers BBQ-restaurant kan koop. Met die geskenkbewyse is kospakkies saamgestel wat deur Groot FM en jeugvrywilligers van die tak vir gesondheidswerkers by verskeie hospitale in Pretoria afgelaai is.

Die tak het in samewerking met Brewers BBQ teen 6 Februarie altesaam 160 geskenkbewyse bymekaar gemaak en dit tydens ’n inry-aksie oorhandig aan gesondheidswerkers. Tessa Venter, wat die jeugportefeulje van AfriForum se Moot-tak hanteer, het die plaaslike jeug betrek en saam het hulle 1 280 pakkies verpak. Volgens Tessa was dit ’n ongelooflike geleentheid vir die jeug in die Moot om betrokke te raak en iets te kon teruggee aan die helde in die hospitaalsale.

Groot FM het in die week van 8 tot 12 Februarie die pakkies en die geskenkbewyse by die volgende hospitale afgelaai: Netcare Montana, Netcare Unitas, Pretoria-Wes-distrikhospitaal, Life Eugene Marais en Steve Biko-akademiese hospitaal.

“Nie net wou ons uitreik na ons die gesondheidswerkers in ons area nie, maar ons het besef daar was ’n gevoel van mismoedigheid onder ons mense. Ons wou hulle ook in die gees van #VegEnBou die geleentheid gee om saam te veg teen die pandemie,” sê Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Moot-tak.

Die tak is nog besig om geskenkbewyse bymekaar te maak en dit is hulle doel om teen die einde van Februarie al die gesondheidswerkers in die Moot se hande te versterk deur die inisiatief. As jy wil betrokke raak, kontak gerus enige een van die drie Brewers BBQ-takke, of besoek AfriForum se Moot-tak se Facebook-blad en sluit by die Telegram-groepe aan.

“Dis ongelooflik om te sien wat gemeenskappe kan vermag as almal saamwerk. AfriForum is baie trots op sy lede en almal wat betrokke is by hierdie projek. Ek is seker hierdie projek gaan net na hoër hoogtes groei,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-Noord-area.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN