Header Artwork

Deur Alet Rademeyer

Die anargie, verwoesting en nood wat KwaZulu-Natal (KZN) getref het tydens onlangse protesoptogte en brandstigting is ’n ramp, maar dit het ook gewys wat gedoen kan word as gemeenskappe gerat is om in te spring en ’n verskil te maak.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die onluste is ’n slegte ding wat in die land gebeur het, maar daar is ook ’n silwer randjie in die sin dat gemeenskappe saam met ander rolspelers kragte saamgesnoer het om vinnig ’n plan te maak om noodleniging deur middel van ’n lugbrug in KZN moontlik te maak. “Ons het weer eens besef dat ons nie uitgelewer is nie en selfs in tye van nood kan optree om kwesbare mense te help en by te staan.”

Kallie Kriel, Hannes Noëth en Deon Steyn

Die operasie is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, Sam Keddle en Santje White van die  Commercial Aviation Association of Southern Africa NPC (CAASA), Mike Barnes, uitvoerende hoof van die Mutual Group of Companies, en Michael Goodwin, koördineerder by dié groep, Rachel Muir, direkteur van Federal Airlines, AfriForum se lugsteun-afdeling, Forum Sekuriteit, die lugvaartgemeenskap, plaaslike takstrukture asook veiligheidstrukture aangepak. Helpende Hand het die noodvoorrade verpak en beskikbaar gestel.

 

Volgens brig.-genl. Deon Steyn, lugsteun-bestuurder by AfriForum, is 800 kg se noodvoorraad, wat medisyne en voedsel insluit, suksesvol vanuit Gauteng na KZN deur middel van pad- en lugvervoer afgelewer. Die lugbrug was noodsaaklik omdat alle roetes en hoofweë aanvanklik gesluit was en voorraad nie net per pad vervoer kon word nie. Dit is by klein lughawens in die provinsie beveilig en vandaar deur strukture na gemeenskappe in nood na dorpe versprei. Dit is hoofsaaklik na ouetehuise en sentrums vir gestremdes versprei wat nie toegang tot voorraad gehad het en steeds nie het nie.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê terwyl mense nog steier onder die impak van die COVID-19, is hier nou ’n nuwe krisis. “Ons het uit COVID-19 geleer en is nou in ’n goeie posisie om vinnig en volhoubaar te kan optree. Ons weet nou dat ons voorraad vinnig kan verpak en versprei na plekke waar dit nodig is. Die gevolge van die plundering gaan nog lank met ons wees en die maatskaplike nood neem daagliks toe. Ons doen ’n beroep op mense wat kan, om die Solidariteit Beweging se Krisisfonds te ondersteun.

“Hoe meer mense saamwerk, hoe kragtiger is die uitwerking wat ons pogings het.”

Die omvang van die skade word deur sommige ontleders reeds op meer as R20 miljard geraam. Behalwe dat daar ’n probleem is om kos en ander voorrade na die provinsies te versprei, is die skade aan infrastruktuur enorm en sal dit waarskynlik etlike jare neem om dit weer op te bou.

Kriel wys daarop dat die krisis nie afgeweer is nie. “Ons moet voortgaan om te help en doen ’n beroep op ons lede en die publiek om te help waar hulle kan. Die nagevolge is baie groot. Hulle kan help deur bokse met niebederfbare produkte te pak of ’n donasie te maak as hulle nie ’n boks kan aflewer nie.”

Al die inligting oor watter soort voorraad gepak kan word en by watter punte van Helpende Hand dit in die onderskeie provinsies en streke afgelewer kan word, is by www.noodfonds.co.za beskikbaar.

’n Donasie kan gemaak word by:

Banknaam: First National Bank

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

Verwysings: Noodfonds

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN