Header Artwork
Regter wys aansoeke vir opening van strande van die hand

Deur Alet Rademeyer

Regter Hans Fabricius het vanoggend drie aansoeke van verskillende partye vir die opening van strande in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

Die aansoeke is gebring deur die Groot-Brakrivier-sakeforum, die gastehuiseienaar Louis Cook en AfriForum teen die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (dr. Nkosazana Dlamini-Zuma); die Kouga Munisipaliteit teen Dlamini-Zuma; en die Buffelsbaai Huiseienaarsvereniging en twee ander applikante teen Dlamini-Zuma en pres. Cyril Ramaphosa.

Die regsverteenwoordigers van die onderskeie applikante het onder meer geargumenteer dat die regulasies wat op 15 Desember 2020 in die Staatskoerant afgekondig is en wat toegang tot strande verbied of beperk, ongrondwetlike, irrasioneel en onwettig is. Van die aansoekers voer ook aan dat die regulasies inbreuk op die regte van mense maak.

Daar is onder meer kapsie gemaak teen die “ongelyke” toepassing van die regulasies waar besoeke aan strande in die Tuinroete heeltemal verbied word, terwyl besoekers aan die Wes-Kaap strande net op sekere tye mag besoek. In KwaZulu-Natal is die strande op vakansiedae, wat gewoonlik die besigste tye is, ook gesluit.

’n Verlate strand in KwaZulu-Natal

Die aansoekers het in hofstukke ook verwys na die “verwoestende” impak wat die sluiting van strande ook op sakeondernemings gaan hê wat weens die COVID-pandemie reeds noustrop trek. Volgens die aansoekers het duisende vakansiegangers hul besprekings vir verblyf gekanselleer ná die regering nuwe regulasies aangekondig het wat ’n uiters negatiewe impak op toerisme sal hê.

Die DA het ook Maandag ’n aparte aansoek gebring teen die sluiting van strande in die Tuinroete en die beperking op tye wat die strande in die Wes-Kaap oop is. Dié aansoek vir die opening van die Tuinroete is nie toegestaan nie, maar tye om op strande in die Wes-Kaap te wees, is aangepas van 09:00 tot 18:00 na 06:00 tot 19:00.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê die party het die aansoek gebring omdat die sluiting van strande oor die feestyd in die Tuinroete die spyker in die doodskis vir kusekonomieë kan wees wat reeds op die rand van ineenstorting is.

Fabricius het in sy uitspraak gesê hy het simpatie en begrip vir die ekonomiese gevolge wat die sluiting van die strande inhou, maar meen dit is net tydelik van 16 Desember 2020 tot 3 Januarie 2021.

Volgens hom is die aansoeke inderdaad dringend en aanvaar hy dat die aansoekers nie tyd gehad het om kundige getuienis te bekom nie. Die feite wat voor geplaas is, berus egter grootliks op hoorsê. Daarteenoor het die regering besluite op grond van kundige advies en wetenskaplike inligting geneem.

Fabricius meen verskeie faktore moet ook nou in ag geneem word soos die vinnige verspreiding van die virus, die toename in mense wat positief vir COVID-19 en die nuwe variant toets asook die groeiende druk wat daar op hospitale en die openbare gesondheidsorgstelsel is.

Fabricius wys daarop dat die regering ’n verpligting teenoor landsburgers het en alles in hul vermoë moet doen om die pandemie hok te slaan. Hy meen die tydelike inperking van mense se regte is daarom geoorloof.

AfriForum se regspan is van mening dat alhoewel die dringende aansoek nie geslaag het nie, dit belangrik was om die kollig te plaas op die rampspoedige gevolge wat die sluiting van strande vir sakeondernemings veroorsaak het.

“Dit is ook belangrik om daarop te let dat die hof se uitspraak nie die regering se optrede kwytskeld nie, maar bloot bevind het dat die sluiting van strande wel ’n geldige besluit deur die regering was,” sê Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger.

“Alhoewel AfriForum teleurgesteld is met die uitspraak, wil die organisasie die publiek aanmoedig om steeds hul gunstelingvakansiebestemmings te besoek, asook om plaaslike sakeondernemings te ondersteun om dié kusdorpe se finansiële las te verlig. Hierdie sakeondernemings gaan heel waarskynlik nou geweldige, en in baie gevalle onherstelbare skade ly as gevolg van vakansiegangers wat hul vakansieplanne kanselleer omdat die strande gesluit is,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN