Header Artwork
Vuurwapens: AfriForum dien kommentaar en beswaar teen konsepwysigingswet in   

AfriForum het vandag sy kommentaar en beswaar op en teen die voorgestelde konsepwysigingswet op die bestaande vuurwapenwetgewing ingedien.

Die kommentaar het ten doel om die verreikende gevolge van die konsepwysigingswet uiteen te sit, asook om dit duidelik te maak dat AfriForum die konsepwet verwerp weens onder meer die feit dat dit die grondwetlike regte van Suid-Afrikaanse burgers aantas.

Dit volg nadat die Staatskoerant van 21 Mei 2021 die publiek uitgenooi het om kommentaar op die beoogde wysigingswet te lewer. Verskeie organisasies, verenigings en politieke partye het hul misnoeë te kenne gegee met die beoogde wysigings en verskeie petisies en kommentaarplatforms het die lig gesien.

Aanvanklik was die sluitingsdatum van die tydperk vir die publiek om kommentaar te lewer teen die gemelde konsepwetgewing 4 Julie 2021. ’n Skrywe vanaf die kantore van die staatsprokureur (gedateer 28 Junie 2021) wat onder AfriForum se aandag gekom het, bevestig egter dat dié tydperk met ’n verdere 21 dae verleng gaan word.

Die beleërde minister van polisie, Bheki Cele – word voorts opnuut gebombardeer met kritiek nadat die sogenaamde “Wits Report” ten einde laas die oë van die publiek op 26 Junie 2021 bereik het. Hierdie verslag is verdoemend vir Cele se bewerings dat vuurwapens die skuld moet kry vir die hoë misdaadsyfer. Dié verslag dui onder meer aan dat die Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000 relevant is by minder as 5% van alle klagtes wat aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens rapporteer word.

“AfriForum sal, soos ooreengekom tydens ’n kongres wat op 10 Junie by die AfriForum Teater gehou is, ook hierdie kommentaar aan die bykans 21 ander organisasies stuur wat by die kongres betrokke was. Hierdie verspreiding van die kommentaar vorm deel van die besluit wat tydens die kongres deur dié organisasies geneem is om inligting met mekaar te deel ten einde die beoogde konsepwysigingswet gesamentlik te beveg,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling.

“Cele het ’n perd van ’n ander kleur opgesaal met veral die wyse waarop hierdie ondeurdagte en swak nagevorsde konsepwetgewing gedryf word. Dit is lekker om saam met ander regdenkende organisasies en burgers hierdie gevaarlike konsepwetgewing die hoof te bied,” sluit hy af.

AfriForum gaan voort met sy uitgebreide veldtog om die konsepwysigingswet teen te staan.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN