Deur Marnus Kamfer
Aansoeke vir vuurwapenlisensies, hetsy vir ’n nuwe vuurwapen of vir die hernuwing van ’n lisensie wat binnekort verval, is ’n frustrasie wat menige Suid-Afrikaners in die nag wakker hou en aanleiding gee tot vurige gesprekke rondom braaivleisvure. Kortom, vuurwapeneienaars is tans warm onder die kraag.
Vuurwapeneienaars moet deur hoepels van vuur spring net om te sien hoe die doelpale aanhoudend verskuif word. Dit is eenvoudig ’n beslommernis om ’n wettige vuurwapeneienaar in Suid-Afrika te wees.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kom eenvoudig nie die mas op met die verwagtinge wat huidige vuurwapenwetgewing skep nie. Die foto’s van vuurwapenaansoeke wat soos berge opgestapel staan by die SAPD se sentrale vuurwapenregister, die wyse waarop die afgelope vuurwapenamnestietydperke hanteer is en die onvermoë en/of onwilligheid van aangewysde personeel in polisiekantore beklemtoon dié realiteit
Daar was egter in dié tyd vonkies van hoop in ’n baie donker gang. Individuele polisielede werk aande om en het byna ’n jaar laas ’n ordentlike naweek gehad, in ’n byna hopelose poging om die agterstand van vuurwapenlisensieaansoeke in te haal. Ongeag die oormag van werk hou hulle steeds vol om die wa deur die drif te probeer trek. Voorts het die Hoogste Hof van Appèl laat in April vanjaar ’n uitspraak gelewer dat daar niks in die huidige vuurwapenwetgewing bestaan wat ’n persoon verhinder om van vooraf aansoek te doen vir sy/haar vuurwapenlisensie in die geval waar die lisensie verval het nie. Die SAPD het voorheen geweier om sodanige aansoeke te oorweeg, en die gebruik van ’n vuurwapenamnestietydperk was die enigste uitweg.
Met die bekendmaking van dié uitspraak was daar egter weer ’n toeloop van desperate vuurwapeneienaars wie se vuurwapenlisensies verval het na hul naaste polisiekantoor, net om te hoor dat die SAPD-lede hulle nie behulpsaam kan wees met hulle aansoeke nie, ongeag die uitspraak. Dít weens die feit dat die stelsel eers aangepas moet word om die nuwe aansoeke te aanvaar en omdat hulle wag vir direktiewe en riglyne vanaf die bestuur oor hoe om die nuwe toedrag van sake te hanteer. Daar word ook gewag op die polisiebestuur om onduidelikhede uit die weg te ruim, waarvan daar baie is. Op wie presies is die uitspraak van toepassing? Wat gebeur met die vuurwapen hangende die aansoek? Watter proses moet gevolg word? En ’n magdom ander vrae. Om ’n vergelyking te tref: vuurwapeneienaars in dié penarie bevind hulself in die skoene van ’n kind buite ’n lekkergoedwinkel. Hulle kan die lekkernye sien, maar die glasvenster van die winkel keer hulle om daarby uit te kom.
Dit blyk dat ’n verdere amnestietydperk ook moontlik ter sprake is. AfriForum het vroeër vanjaar ’n skrywe aan die minister van Polisie, Bheki Cele, gerig en versoek dat ’n verdere amnestietydperk oorweeg moet word weens, onder meer, die ontberinge wat die COVID-19-pandemie en inperkings meegebring het. Kort daarna het die minister aangedui dat ’n versoek vir nog ’n amnestietydperk “billik” is. Ongelukkig kan ’n amnestietydperk nie net op die minister se bevel ingestel word nie. Die vuurwapenwet skryf ’n prosedure voor vir die instel van ’n amnestietydperk wat gevolg moet word en ongelukkig tydrowend kan wees.
Voorts het die kabinet onlangs bekendgemaak dat daar eersdaags ’n vuurwapenwysigingswetsontwerp aan die publiek bekendgestel sal word vir kommentaar. Hierdie nuus word met groot omsigtigheid bejeën. Burgers koester die (miskien naïewe) hoop dat die wysigings voorsiening sal maak vir ’n meer naatlose administratiewe stelsel rondom die lisensiëring van vuurwapens; ander is meer skepties en verwag dat die wysigings slegs ten doel het om die besit van vuurwapens deur burgers verder te kompliseer en te bemoeilik.
Onsekerheid is aan die orde van die dag en alle partye wag op ’n aanduiding in die regte rigting. Party polisiekantore dreig vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het met vervolging as laasgemelde aanklop vir leiding; ander maan dat dié vuurwapeneienaars hulle wapens by hulle in die kluis moet hou hangende meer duidelikheid oor hoe die situasie hanteer moet word.
Om te poog om die honderde duisende mense te vervolg wat hulle in dié posisie bevind, is ondenkbaar maar die geraakte persone kan ook nie die “ongelisensieerde” vuurwapens onbepaald “onwettig” in ’n kluis hou nie.
AfriForum en baie ander organisasies plaas daagliks druk op owerhede om die huidige situasie reg te stel in belang van vuurwapeneienaars. Baie van dié organisasies is reeds in gesprek en staan reeds reg om kommentaar op die gemelde wysigingswetsontwerp in te dien en enige inperking op wettige vuurwapeneienaars se regte op alle beskikbare forums te beveg.
Tans lyk dit of ons, as vuurwapeneienaars, ons in die oog van die storm bevind, en geduld sal moet seëvier terwyl voorbereiding getref word vir verdere aanslae.