Header Artwork
Viering van Menseregtedag sonder beskerming van taalregte by US en elders leë vertoon   

Met taalregte wat toenemend geskend word, is die viering van Menseregtedag volgens AfriForum bloot leë vertoon. Die senaatsbesluit van die Universiteit van Stellenbosch (US) dat nuwe kursusse in die eerste semester van 2021 slegs in Engels aangebied sal word, word as ’n sprekende voorbeeld van hierdie miskenning van taalregte genoem.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is die universiteit se blatante ontkenning van Afrikaanse studente se taalregte tipies van vele instellings in die land wat ’n pro-Engelse agenda ten koste van tien van die land se amptelike tale dryf.

“Ten spyte van oorweldigende nasionale en internasionale bewyse van die akademiese, sielkundige en ekonomiese voordele van moedertaalonderrig, word Engelse onderrig aan studente as kortpad na sukses opgedis en bewys instellings soos die US net lippetaal aan veeltaligheid,” sê Bailey.

“Die tragedie is dat wanneer bemarking gedoen word, universiteite wel moeite sal doen om byvoorbeeld in Afrikaans te adverteer en sodoende die illusie te skep dat onderrig nie net in Engels beskikbaar sal wees nie. In die praktyk ervaar dosente en studente egter die teendeel en voel dikwels té geïntimideerd om oor die taalregteskendings wat hulle beleef, te kla. Hulle meen ook dat hulle klagtes op dowe ore sal val. Onlangse bewerings van studente dat hulle in US-koshuise nie toegelaat word om Afrikaans te praat nie, en die universiteitsowerhede se ontkennende en verontskuldigende reaksie daarop, versterk die vrese.”

Die US het pas ’n taalbeleid vir openbare kommentaar beskikbaar gestel. Bailey noem dat ervaring by ander instellings die afgelope dekade geleer het dat openbare raadplegingprosesse van min betekenis is. “Die beleid wat vooraf gesirkuleer is of uitgelek het, is telkens aanvaar, ongeag wat die insette van die belanghebbendes behels het. Sodoende het Afrikaans as tersiêre onderrigmedium nou bykans uit openbare instellings verdwyn en word die kans dat ander inheemse tale ten volle tot hierdie vlak ontwikkel gaan word, steeds minder,” verduidelik sy. “Gebeure by US die afgelope weke, veral die besluit oor Engelse onderrig in die eerste semester van 2021, laat twyfel ontstaan of die raadplegingproses in dié geval anders sal verloop.”

Die publiek word aangemoedig om privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech wat wel moedertaalonderrig aktief bevorder, te ondersteun en druk op openbare instellings uit te oefen om van die selfvernietigende pad van eentalige Engelse onderrig af te wyk.

Bailey meen dat owerhede en opvoedkundiges dikwels gebrekkige insig in die kernbelang van taalregte het en nie besef dat dit ’n mensereg is nie. “Hulle skend studente en personeel se regte met ’n eentalige Engelse aanbod en dra daardeur by tot toenemende akademiese agteruitgang onder die bevolking. Meer moet op Menseregtedag gedoen te word om besluitnemers oor die noodsaak van die beskerming en bevordering van taalregte in te lig, voordat nog meer studente die prys vir hulle stompsinnige besluite moet betaal.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN