Header Artwork
Verdagtes loop hul rieme styf teen Bothaville-buurtwag

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het verlede week verskeie verdagtes in hegtenis geneem. Op 4 Maart was daar ’n insident waartydens diewe goedere van ’n bakkie af gesteel het. Met behulp van kameras wat die AfriForum-tak aangekoop het en deur AlarmPro gemoniteer word, is die verdagtes vinnig uitgeken. Die vermeende diewe het egter op 5 Maart  hul misdrywe voortgesit en is raakgesien waar hulle in die straat ronddwaal. ’n Sekuriteitsmaatskappy en die buurtwag se reaksiespan het gereageer en kon een persoon arresteer en aan die SAPD oorhandig. Ongelukkig het die ander verdagte weggekom.

Die buurtwag het op 5 Maart kabeldiewe vasgetrek, terwyl hulle op dieselfde dag ’n oproep van die publiek ontvang het dat brandstigters verantwoordelik was vir ’n brand in ’n nabygeleë veld. Die buurtwag se protospan en sekuriteit het gereageer en op ’n man afgekom wat besig was om koperkabels skoon te brand. Die persoon is gevolglik gearresteer.

“Ons maak tans gebruik van AfriForum se kameras en privaat kameras wat ons baie help met insidente. Ons kon die persone wat die skool en dorp so gevandaliseer het binne twee dae uitken en hulle aan die pen laat ry,” sê Gawie Pretorius, leier van AfriForum se Bothaville-buurtwag.

“Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“Dit is lekker dat die buurtwag die polisie kan ondersteun. Die publiek word gemaan om wakker te wees en enige tekens van misdaad dadelik aan te meld. Dit is ook lekker om te sien dat die kameras wat die tak opgerig het, sukses teweegbring,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak: SMS “Bothaville” na 31481 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN