Header Artwork
Van klein begin tot burgerregtewaghond in 15 jaar

Deur Alet Rademeyer

Vyftien jaar gelede het die AfriForum-droom klein begin met ’n artikel wat op 26 Maart 2006 in Rapport oor die stigting van ’n “nuwe forum” gepubliseer is.

Dié organisasie het met sy stigting geen lede gehad nie en slegs oor drie personeellede en beperkte hulpbronne beskik. In die afgelope dekade en ’n half het die organisasie hom as ’n gerekende burgerregtewaghond gevestig. Vandag het die organisasie meer as 275 000 aktiewe lede, meer as 180 personeellede en ’n verdere 100 uitgekontrakteerde diensleweraars. Daar is ook 159 buurtwagte, 156 takke landwyd en meer as 12 500 vrywilligers wat die hart vorm van AfriForum se aktiwiteite op plaaslike vlak.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die tientalle suksesse wat al behaal is, nie die werk van enkelinge nie, maar ’n spanpoging, waarin elkeen van AfriForum se meer as 275 000 lede ’n sleutelrol gespeel het en steeds speel. “Dit is lede wat AfriForum sterk maak. Sonder lede is AfriForum niks. Juis daarom wil AfriForum elkeen van ons lede uit die diepte van ons hart bedank. AfriForum se suksesse is julle suksesse.

“Ons sê ook dankie aan God vir al die genade wat ons van Bo ontvang om reg te kry wat menslik gesproke onmoontlik gelyk het. Voorts speel AfriForum se direksie, personeel en plaaslike leiers se roepingsgedrewe harde werk ook ’n sleutelrol in ons suksesresep.”

Kriel sê AfriForum sien uit na die volgende 15 jaar waarin ons met ons veg-en-bou-plan nie net sal voortgaan om teen agteruitgang te veg nie, maar ook ons bou-aksies drasties gaan versnel. “Alhoewel ons trots is op wat ons die afgelope 15 jaar bereik het, besef ons in nederigheid dat daar nog baie is wat gedoen moet word om vir ons en ons nageslag ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms hier aan die suidpunt van Afrika te skep. Die beste manier om agteruitgang te beveg, is deur selfstandig aan vooruitgang te bou. AfriForum en die Solidariteit Beweging se gevorderde planne om sterk selfstandige ankergemeenskappe – waarin ons gemeenskappe hul toekoms in hulle eie hande neem – uit te bou; asook ons planne vir groeiende outonomie vir die Wes-Kaap, bied opwindende moontlikhede wat hoop vir die toekoms gee.”

As deel van AfriForum  se verjaarsdagvieringe, fokus Forum Nuus in hierdie artikel op enkele hoogtepunte wat elke jaar uitgestaan het sedert die organisasie se klein begin.

2006

In aanloop tot die stigting het Kallie Kriel en Alana Bailey afsprake met Afrikaner-meningsvormers uit alle sektore gemaak om die idee van ’n burgerregteorganisasie by hulle te toets. In September 2006 word die  organisasie se burgerregtemanifes vrygestel. In dieselfde jaar hou die organisasie sy eerste openbare protesoptogte teen die naamsverandering van Pretoria en Potchefstroom.

2007

AfriForum het van die begin af nougeset oor Afrikaanse taalregte gewaak en talle veldtogte is in dié jaar in die verband geloods teen die viktimisering van byvoorbeeld enkelmedium Afrikaanse skole. Die organisasie bied sy eerste musiekfees ter behoud van Pretoria se naam aan wat deur 10 000 mense by die Voortrekkermonument bygewoon is.

2008

In dié jaar word AfriForum Jeug onder leiding van Ernst Roets begin en een van die eerste mylpale is ’n verslag oor Afrikaans as tersiêre onderrigmedium. Die jeug het ook in opstand gekom teen regstellende aksie en verskeie bekendes soos Mathys Roets, Jackie Louw en Adam Tas by hul veldtog betrek.

2009

In dié jaar het AfriForum een van sy suksesvolste veldtogte geloods met druk op die maatskappy Nestlé om op te hou om melk van die plaas van pres. Robert Mugabe se vrou, Grace, te koop. Dit het internasionaal opslae gemaak en gewys gewone mense het die mag om hulle koopkrag aan te wend om toe te sien dat geregtigheid geskied. In 2009 begin AfriForum ’n netwerk vir gemeenskapsveiligheid en Willie Spies van Hurter Spies Ing. word as AfriForum se regsverteenwoordiger gekontrakteur. Alana Bailey het ook in Mei van dié jaar vir die eerste keer steun vir die saak van Afrikaans in die buiteland gaan werf.

2010

AfriForum begin in 2010 met ’n rigtinggewende hofsaak teen die EFF-leier Julius Malema oor omstrede uitlatings en haatspraak. Die hof het ’n tussentydse interdik toegestaan wat Malema verbied om die Skiet die Boer-lied te sing. Die uiteinde was ’n deurbraak wat beteken het die ANC gee ’n onderneming dat sy lede die sing van kwetsende liedere sal vermy.

2011

Die organisasie se eerste takke word gestig sodat gemeenskappe beheer oor hulle strate van misdadigers en onbeholpe stadsrade kan terugneem. Kallie Kriel besoek die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Switserland waar dr. Dirk Hermann se boek, Land of Sorrow, uitgedeel is. Grondgrype steek kop uit en AfriForum staan die Wallmannstal Community Property Association by. Die hof beslis in die vereniging en AfriForum se guns en ’n stokkie word voor onwettige grondbesettings gesteek.

2012

AfriForum het sedert sy ontstaan veldtogte teen plaasmoorde en –aanvalle gevoer. In 2012 word die publiek versoek om plaasmoorde te dokumenteer en 1 445 geel rose word by die polisiekantoor in Pretoria gelê om die minimum Suid-Afrikaners te verteenwoordig wat sedert 1990 in plaasmoorde gesterf het. 33 Bekendes neem in Junie van dié jaar deel aan ’n optog na die Uniegebou om die impak van geweldsmisdaad in die lewe van gewone burgers onder pres. Jacob Zuma se aandag te bring.

2013

AfriForum stel ’n verslag vry waarin die growwe nalatigheid deur van die polisiebeamptes rondom die ondersoekwerk van plaasaanvalle en –moorde blootgelê word. In die jaar begin die burgerregwaghond ook met sy nasionale watermoniteringsveldtog wat as die Blou-en-groendruppelverslag uitgerol sou word. Die doel hiervan was om die gehalte van drink- en afvalwater landwyd te toets.

2014

AfriForum betrek sy nuwe hoofkantoor in Kloofsig, Centurion. Die ledetal staan aan die einde van die jaar op 116 000. Die organisasie kry ’n volwaardige tydskrif, Forum Tydskrif, wat aan lede gestuur word. Die kwessie van Afrikaans bly ’n brandpunt en die organisasie stel sy eerste Slim-veldtog (Studeer en Leer in jou Moedertaal) bekend, terwyl Dink of Sink, ’n kompetisie vir onvoorbereide debatsvoering vir skole uitbrei.

2015

AfriForum bereik die 150 000-ledetalkerf. AfriForum bly veg teen plaasmoorde en ’n 10-punt-aksieplan word by die Menseregtekommissie se openbare verhore oor plaasmoorde bekendgemaak. AfriForum is betrokke by die film Treurgrond, wat die werklike omvang van plaasmoorde uitbeeld. Dié jaar sal ook onthou word vir vandale se aanvalle op erfenisbakens op kampusse. AfriForum het ingegryp en van die geverfde en beskadigde monumente skoongemaak. Bewusmaking is ook begin dat Afrikaners moet opstaan vir hul geskiedenis en betrokke moet raak by die bewaring van hul erfenisgoedere.

2016

AfriForum begin sy Trauma-ondersteuningseenheid om hoofsaaklik slagoffers van plaasaanvalle by te staan. ’n Projek, Afrikaans-Vriendelik, word aangepak om die gebruik van Afrikaans in die sakewêreld aan te moedig. AfriForum stel die dokumentêre film Tainted Heroes vry. Dit fokus op die bevlekte verlede en gewelddadige optrede van die ANC tydens sy bevrydingstryd. Die grootste aanslag op Afrikaanse onderrig en sogenaamde stadige transformasie breek landwyd op kampusse uit. Kampusse word die spilpunte van anargie en chaos met AfriForum en AfriForum Jeug wat ingryp om studente te bemagtig om hulself te beskerm.

2017

AfriForum stel adv. Gerrie Nel aan om die organisasie se nuwe privaatvervolgingseenheid op die been te bring. Privaat vervolging is daarop gemik om gelykheid voor die reg te verseker en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tot verantwoording te roep. Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, was die eerste persoon waarop die privaatvervolgingseenheid gefokus het. Dié eenheid se ingryping het daartoe gelei dat die NVG besluit het om Duduzane wel te vervolg nadat dit aanvanklik nie wou nie. De Goede Hoop, ’n inisiatief wat deur AfriForum ondersteun word, skop in hierdie jaar af. Dié Afrikaanse privaat koshuis is op Christelike beginsels gegrond en word ’n waardegedrewe tuiste vir Afrikaanse studente.

2018

Terwyl AfriForum reeds van vroeg af sy stem teen onteiening sonder vergoeding dik gemaak het, is ’n veldtog hierteen in 2018 verskerp. AfriForum neem duidelik standpunt in oor die ANC se bedoeling met onteiening sonder vergoeding wat uiteindelik op niks anders as nasionalisering van grond en onwettige batebeslaglegging neerkom nie. Die regering se rassistiese motief rondom die beleid word ook vervat in ’n verslag van die organisasie getiteld Land in South Africa – A Geospatial Perspective. Die verslag en ander inligting is ook internasionaal gebruik om die buiteland bewus te maak van die ANC se houding teenoor burger- en eiendomsregte en die katastrofiese gevolge wat dit kan hê. AfriForum bied ook in 2018 ’n nasionale kongres met die tema #SkepSaamHoop aan waar kenners oplossings vir minderhede se voortbestaan op die tafel geplaas het. In 2018 word Ernst Roets se boek oor plaasmoorde, Kill The Boer, vrygestel. Dit beeld die wreedaardigheid van plaasaanvalle uit sowel as die regering se aandadigheid tot die krisis.

2019

In dié jaar hou die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, ’n toekomsberaad om na oplossings vir die Afrikanerkrisis te kyk. Die oplossing berus op enkele pilare naamlik dat Afrikaners hul deur ’n Helpmekaarnetwerk van selfhelporganisasies moet laat saambind. Die klem val tydens die beraad ook op selfbestuur en bou-om-te-bly-projekte wat vinniger uitgerol moet word. Daarmee saam word besluit om brugbouprojekte met ander gemeenskappe in die land ook te versnel. In dié jaar pak AfriForum ook sy #AnkerdorpPadskou met mening aan wat fokus op selfdoen- en selfhelpprojekte in die meer as 140 AfriForum-takke. Dit behels dat gemeenskappe self inspring om hul omgewing skoon te maak en onder meer slaggate moet herstel. Dit is die jaar waarin AfriForum Netwerk (nou AfriForum Sakenetwerk) geloods word sodat AfriForum-lede se ondernemings en dienste gratis op die netwerk se databasis kan geregistreer.

2020

In 2020 brei AfriForum sy #VegEnBou-veldtog radikaal en vinnig uit. AfriForum pak projekte aan om vir geregtigheid en teen agteruitgang te veg, terwyl daar ook op grondvlak werklikhede help bou word sodat gemeenskappe met ’n groeiende mate van selfstandigheid na hul eie belange kan omsien. AfriForum onderneem ’n skakeltoer na die VSA om steun te werf teen die skending van minderhede se regte in Suid-Afrika. Die #DieWêreldMoetWeet-veldtog het baie vrugte afgewerp met buitelandse beleggers en meningsvormers wat groter begrip gekry het oor wat die ANC se houding jeens minderhede in die land is. Dit is die jaar waarin AfriForum se privaatvervolgingseenheid ook vordering maak in hofsake teen Thandi Modise, Julius Malema, Tom Moyane en Alexis Bizos. AfriForum het ook ’n groot rol gespeel in die appèlaansoek van Pieter Doordewaard en Philip Schutte van Coligny wat van moord aangekla is op ’n seun wat sonneblomme gesteel het. Hulle aansoek het uiteindelik geslaag en hulle is vrygelaat. Verlede jaar het COVID-19 uitgebreek en Suid-Afrika ook tot stilstand geknars. Ondanks nasionale en internasionale inperkings is die #AfriForumStaanStaam-veldtog van stapel gestuur en is daar in samewerking met ander organisasies meer as 600 ton kos aan 15 000 mense in nood versprei. Duisende liter handreiniger en gesigsmaskers is na skole en ouetehuise versprei en die staat is gepak wat entrepreneurs op grond van ras van COVID-hulp wil uitsluit. Gewone landsburgers is ook bygestaan wat in dié tyd slagoffers van polisiemagsvergrype geword het. In die tyd groei AfriForum Netwerk met meer as 15 000 ondernemings op die databasis.

2021

AfriForum kondig sy Aksie2021 plan aan met die klem op gemeenskapskrag, groter selfstandigheid en outonomie vir minderheidsgroepe en ’n versnelde “bou”-program op vele terreine. Die Solidariteit Beweging het vanjaar sy splinternuwe Sol-Tech-kampus vir beroepsopleiding betrek waar wêreldklasonderrig in vaardigheidsontwikkeling aangebied word, terwyl Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling begin het om ook kontakklasse op sy kampus in Centurion aan te bied. AfriForum het sy eie AfriForum Teater begin wat daarop gemik is om die kunste, kultuur en Afrikaans te beskerm en uit te bou. Dit is vanjaar duidelik dat staatsverval al hoe vinniger toeneem met die gevolg dat AfriForum ook sy werksaamhede, veldtogte, aksies en planne sal moet versnel. Die voortslepende hoë vlakke van misdaad en geweld noop AfriForum ook om sy veiligheidstrukture vinniger uit te brei ten einde gemeenskappe te bemagtig om hulself beter te beveilig. Daar is reeds meer as 150 plaas- en buurtwagte, terwyl Forum Sekuriteit ook vanjaar registrasie van PSiRA verkry het. Forum Sekuriteit se doel is onder meer om gemeenskappe se grondwetlike reg ten opsigte van veiligheid te beskerm en uit te bou. Wat munisipale verval betref, is die maatskappy Pionier ook gestig om op ’n rewolusionêre manier selfbestuur in gemeenskappe te bevorder. Dit is gestig om die swak gehalte van munisipale dienste op te los deur middel van ’n  koöperatiewe model. Die dienste sluit in die bestuur van waterhulpbronne en die lewering van skoon drinkwater, rioolbestuur, vullisverwydering en -terreinbestuur asook elektrisiteitsvoorsiening.

Soos in die afgelope 15 jaar, is AfriForum daartoe verbind om voort te veg en te bou vir ’n beter toekoms aan die suidpunt van Afrika.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN