Header Artwork


AfriForum sit vandeesweek deur middel van aktivisme, strafregtelike klagtes en rehabilitasie sy veldtog voort om die Vaalrivier te red. Die volgende fase van dié veldtog vind in Vanderbijlpark en Vereeniging plaas. Dit volg nadat die burgerregte-organisasie hierdie veldtog verlede week in Parys van stapel gestuur het.
Besoedeling van die Vaalrivier is ook ’n reuseprobleem in die Vaaldriehoek, waar daar reeds vir maande lank riool in die rivier gestort word en die besoedeling nou rampspoedige afmetings aanneem. AfriForum en lede van die gemeenskap is gister na die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, waar die ergste besoedeling van die rivier sigbaar is.

Volgens Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, tree AfriForum se Vanderbijlpark- en Vereeniging-takke nou in waar onbehandelde riool in die rivier gestort word. Aktiewe (goeie) bakterieë word in die water vrygestel om die riool af te breek en suurstof in die rivier terug te sit. “Dít sal hopelik verhoed dat verdere fauna en flora vrek,” sê Pawson.
AfriForum het ook beplan om ’n memorandum oor die munisipaliteit se swak water- en rioolbestuurspraktyke aan Oupa Nkoane, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, te oorhandig. “Nkoane was skynbaar nie beskikbaar nie. Ons het versoek dat enige persoon die memorandum namens die munisipaliteit ontvang, maar daar was niemand in die hele munisipaliteit wat daardie verantwoordelikheid wou neem nie. Saam met die memorandum wou ons ook dooie visse, riool- en drinkwatermonsters (wat nie aan die nasionale standaarde voldoen nie) oorhandig,” aldus Pawson.

’n Spesialis gaan gebruik word om die E. coli-vlakke in die rivierwater te meet. Hierdie spesialis sal dan ook in ’n strafhof oor die vlakke van besoedeling kan getuig.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, is die onbehandelde riool – wat direk in die Vaalrivier gestort word – ’n duidelike aanduiding van die swak dienslewering in Emfuleni. “Die afwesigheid van samewerking in dié munisipaliteit is uiters kommerwekkend. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie en lede van die gemeenskap moet ’n wekelange proses volg om ’n afspraak met die munisipale bestuurder te probeer kry. Dít terwyl dieselfde amptenary riool in die water stort tot die ernstige nadeel van mens en dier in die gemeenskap,” sê Ungerer.
“Die regering stort daagliks omtrent 5 000 megaliter gedeeltelik behandelde of onbehandelde riool in riviere. Daar is onlangs wyd berig dat Emfuleni nie in staat is om sy funksies, soos deur die Grondwet vereis, te verrig nie en daarom het die Gautengse provinsiale regering dié munisipaliteit onder administrasie geplaas. Ten tyde van die aksie voor die munisipaliteit was nog geen administrateur hier in die afgelope 60 dae nie en daar is nog geen duidelikheid oor of die munisipaliteit werklik onder administrasie is of nie,” sê Pawson.
Alle AfriForum-takke langs die Vaalrivier gaan soortgelyke aksies in hul onderskeie dorpe aanpak. Mediumtermynaksies sal op die herstel van rioolpompe en -aanlegte, wat die grootste bron van besoedeling is, fokus. “AfriForum se langtermyndoelwitte met hierdie projek is om bekostigbare gemeenskapinfrastruktuur met die nuutste tegnologie te skep, sodat gemeen­skappe self hul water kan suiwer sonder dat hulle op die regering hoef te wag,” verduidelik Pawson.
“AfriForum sal die situasie deurlopend moniteer en op ’n volledige aksieplan met verantwoordbare persone aandring. Mense wat wil help om riviere te rehabiliteer, kan by AfriForum se webtuiste registreer om aan die volgende rehabilitasie-aksie deel te neem. Saam kan ons die Vaalrivier red,” sluit Ungerer af.

Is jou rivier besoedel? SMS jou dorp se naam na 45354 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die watergehalte in jou dorp te toets.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN