Header Artwork
US-taalvoorstel nóg ’n voorbeeld van misbruik van COVID-19 as verskoning vir menseregteskendings

AfriForum het die versoek van die akademiese beplanningskomitee van die Universiteit van Stellenbosch (US) se senaat – naamlik dat alle nuwe kursusse aan die universiteit slegs in Engels aangebied word – beskryf as net nóg ’n voorbeeld van hoe COVID-19 misbruik word as verskoning vir menseregteskendings.

Volgens dié komitee het die COVID-19-pandemie en die gevolglike aanbied van afstandsonderrig, -leer en -assessering geweldige druk op dosente tot gevolg. Eentalige Engelse aanbieding van onderrig sal dié druk verlig. Dat dit die druk op Afrikaanssprekende studente gaan verhoog, skeel dié komitee blykbaar min.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dié versoek net nóg ’n gebeurtenis vandeesweek wat US se gebrek aan verbintenis tot veeltaligheid, en meer spesifiek tot Afrikaans, illustreer. Gevolglik heg AfriForum daarom ook min waarde aan die universiteit se verweer in die media dat die moontlike aanvaarding van hierdie voorstel “slegs ’n tydelike reëling in die eerste semester sal wees”.

“US het ’n groot en uiters bekwame taalsentrum wat ondersteuning kan verleen aan dosente wat probleme ervaar. Afstandonderrig het ook besparings tot gevolg, wat beteken dat die aanbod van dié dienste selfs uitgebrei sou kon word as die nood dan werklik só hoog is. Ons leef in ’n tyd waar tegniese ontwikkelinge die aanbied van meertalige dienste gedurig verbeter en vergemaklik. Dat eentalige onderrig dan nou skielik as enigste oplossing voorgehou word deur diegene wat die voorstel opgestel het, dui op ’n gebrek aan dienslewering aan ’n beduidende deel van die studentegemeenskap, ’n gebrek aan kreatiewe denke en aanpasbaarheid, maar bowenal ’n miskenning van die menseregte van alle betrokkenes,” verklaar Bailey.

“Die senaat se besluit oor hierdie versoek sal wel ’n aanduiding wees van US se toekomstige verbintenis tot Afrikaans en meertaligheid. Die universiteit se nuwe taalbeleid wat in die vooruitsig gestel word, sal verder toon tot watter mate die bestuur se verbintenisse tot die bevordering van Afrikaanse studente se taalregte lippediens is al dan nie,” voeg Bailey by.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN