Header Artwork


Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

’n Jaar nadat adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), ’n verslag uitgebring het oor die meer as R240 miljoen wat aan pres. Jacob Zuma se private woning in Nkandla, bestee is, is daar ook talle vrae rondom die finansiering vir veiligheid by sy woning, Mahlamba Ndlopfu, in Pretoria.

In 2007 is in oudpres. Thabo Mbeki se termyn sowat R90 miljoen aan sekuriteitsopgradering by dié presidensiële erf in Pretoria, die Bryntirion-landgoed, bestee. Dié opgradering het die oprig van ’n beweging-sensitiewe sensorheining ingesluit wat die sowat 8 km van die erf omring.

Aan die einde van 2012 is in voorleggings aan die parlement aangekondig dat R1,4 miljard bestee gaan word aan die opknapping van kabinetsministers en Zuma se ampswonings in Pretoria en Kaapstad. Sowat R192 miljoen is vir werk aan die Bryntirion-landgoed geoormerk. Hiervan sou R55 miljoen wees vir ’n nuwe pad, R42 miljoen vir ’n nuwe heining en R26 miljoen vir hekke.

Benewens sekuriteitsopgradering sou Mahlamba Ndlopfu ook ontsnaproetes, nuwe vuurherde, kandelare, houttrappe, balkonne asook ’n nuwe aantrekkamer en sauna kry.
Dié opknappings en opgraderings was veronderstel om einde Desember 2012 voltooi te wees. Twee en ’n half jaar later is die sekuriteitsprojek egter steeds in chaos en onvoltooid.
Die departement van openbare werke is verantwoordelik vir die opgradering van die Bryntirion-landgoed omdat dit as ’n sleutelpunt geklassifiseer word. Die erf sluit Mahlamba Ndlopfu, die adjunk-president se OR Tambo-huis asook ’n gastehuis en verskeie huise vir ministers in.

Anchen Dreyer, DA-LP, het destyds in reaksie op die beoogde besteding gesê ’n mens het begrip vir ampswonings, maar sy het R14 miljoen se opknappings aan één woning bevraagteken. “’n Mens kan paleise koop vir daardie sort geld,” het sy gesê.
Forum Nuus het in ’n ondersoek vasgestel die hoofkontrakteur vir die sekuriteitsopknapping is Kgafelo Construction. Die maatskappy word besit deur Stephens Somo. Hy het in 2014 alle navrae hieroor na die department van openbare werke verwys.
Forum Nuus het inwoners van die Colbyn-omgewing onlangs genader oor die voortslepende konstruksiewerk by landgoed.

Jo-ann Kruger, ’n inwoner in Amosstraat, wat loop tot by die hoofingang van die landgoed, het gesê sy het al meer as een kontrakteur aan die buitenste heining se opgradering sien werk. “Daar was al ten minste vier verskillende kontrakteurs sedert 2012. Hulle werk vir ‘n kort tydperk en verdwyn ’n paar dae later. Die grond word deurentyd in ’n haglike toestand agtergelaat.”
Ten tyde van Forum Nuus se besoek was gedeeltes van die heining in Kerkstraat en Francesstraat met geskeurde swartsakke bedek, slote oop gegrawe en hope rommel op die grond gestrooi.

Nog ’n inwoner van Francesstraat, wat reg langs die landgoed afloop, meen die konstruksiewerk is onooglik en ongerieflik. “Dit lyk sleg en daar is vir ons as inwoners verduidelik dat die betonmuur gebou word om te keer dat voertuie deur die heining jaag. Daar is egter groot gapings en dele wat oopgelaat word.”
Ook dié inwoner het reeds meer as een kontrakteur sien kom en gaan.
Adv. Kate Prinsloo, DA-raadslid vir die wyk waarin die landgoed val, sê sy is moedeloos en magteloos. “Ons het geen beheer en geen toegang tot die landgoed nie.”
Sy het ook bygevoeg dat die erf destyds oop was vir die publiek, maar dat dit nou ontoeganklik is.

Volgens Prinsloo lyk die konstruksiewerk baie onprofessioneel en wil dit voorkom of die regering homself weer bo die reg ag. “Geen gewone inwoner sou toegelaat word om vir so lank met sulke swak konstrukwerk weg te kom nie.”
Prinsloo het gesê sy het verneem dat die department reeds meer geld aan die veiligheidsprojek bestee het as waarvoor begroot is. “Die groot probleem lê by die onduidelikheid en geheimsinnigheid rondom die projek,” meen Prinsloo.
Oupa Shibambe van Umlunga Industrial Resources, een van die kontrakteurs wat vroeër vanjaar aan die heining gewerk het, het geweier om enige besonderhede oor die projek te gee. Hy het gesê openbare werke is vir die projek verantwoordelik en dat die maatskappy waarvoor hy werk “slegs vir die lê van beton verantwoordelik is”.

Op die departement van openbare werke se webtuiste is die name van verskeie “tenderaars” wat al werk gedoen het vir die departement asook die datum wat dit aan hulle toegeken is. Daar is wel geen datum by enige tender wat twee keer aan Kgafela Construction vir werk aan die Bryntirion-landgoed toegeken is nie. Die department het nie op telefoniese of e-pos-navrae gereageer nie.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê daar is nie net talle vrae oor wat by Nkandla gebeur het, maar ook oor wat tans by Mahlamba Ndlopfu aangaan.
“AfriForum beskou die Nkandla-skandaal as een van die grootste verleenthede van die Zuma-regering en ’n bevestiging dat die ANC nie in staat is om verantwoordelik na landsburgers se belange om te sien nie. Die Nkandla-skandaal is ’n bevestiging dat die regering nie werklik ’n finansieringsprobleem het soos wat dikwels uit regeringskringe as motivering gebruik word vir addisionele vorme van belasting soos e-tol nie.
“Die probleem is nie dat die regering nie genoeg geld het nie, maar eerder dat hy sy geld op opgraderings soos by Zuma se privaat woonhuis, groot partytjies en oorbesteding op onbenullighede vermors. Die belastingbetaler moet uiteindelik hierdie las dra.
“Daar is geen etiese gronde waarop belastingbetalers se geld aangewend kan word om ’n staatsamptenaar se privaatwoonhuis met luukshede op te knap nie, ongeag of dit die staatspresident is of nie.”

Roets het ook gesê die swak vakmanskap wat uit die onlangse foto’s van Nkandla ontbloot is, dui ook op ’n vermorsing van belastingbetalers se geld. “Die enigste gevolgtrekking wat ons op hierdie stadium kan maak, is dat hierdie weer ’n geval was waar vakmanne wat politieke verbintenisse het, gevra is om die werk te doen, ongeag of hulle werklik bekwaam is of nie.
“Dit dui nie net op swak oordeelsvermoë en baantjies vir (politieke) boeties nie, maar kom weereens op ’n vermorsing van belastingbetalers se geld neer.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN