Header Artwork
Sukses: AfriForum dwing munisipaliteit om water te voorsien

AfriForum het vandag ’n groot oorwinning vir inwoners van Naboomspruit behaal nadat dié organisasie die Limpopo Hooggeregshof in Pietersburg (Polokwane) dringend genader het om die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit te dwing om water volhoubaar aan Naboomspruit (Mookgophong), Roedtan en Thusang te lewer. Die munisipaliteit het die aansoek nie teengestaan nie.

Die hofbevel bepaal dat die twee boorgate wat in 2020 by die Nyl-vallei geboor is, asook die twee plaasvervangerboorgate binne 10 dae toegerus en aan die waternetwerk gekoppel moet word. Voldoende grootte waterpompe moet ook by die Welgevondendam geïnstalleer word wat genoeg pompvermoë het om die daaglikse toelaatbare kwota water te lewer.

Die munisipaliteit moet ook ingevolge die hofbevel sorg dat daar genoeg onderdele beskikbaar is om enige tyd herstelwerk aan die water- of elektrisiteitsvoorsieninginfrastruktuur te kan doen. Onderdele wat vir herstelwerk gebruik is, moet ook binne twee weke ná gebruik vervang word. Die hofbevel bepaal ook dat Meluse Malanga (die waarnemende munisipale bestuurder) en die munisipaliteit moet toesien dat boorgatpompe wat water aan Naboomspruit, Roedtan en Thusang lewer met kragopwekkers toegerus word sodat water ook tydens kragonderbrekings voorsien kan word.

“Inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon water. Dit is uiters kommerwekkend dat die Hof die munisipaliteit moet beveel om dié dienste te lewer. Dorpe sukkel geweldig met watervoorsiening en ons hoop dat hierdie oorwinning ’n verskil sal maak,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Indien die munisipaliteit die hofbevel verontagsaam, sal AfriForum ’n opvolgaansoek bring om watervoorsiening te verseker.

“Die gebeure in Koster het ons geleer dat gemeenskappe nie meer van munisipale verval kan wegskram nie en ander maniere sal moet soek om dienste te voorsien. Pionier (’n dienstemaatskappy) is gerat om volhoubare watervoorsieningsdienste in gemeenskappe te verseker,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

Die tak in Naboomspruit het ook op 15 Maart ’n noodwaterpunt in Roedtan opgerig sodat inwoners van dié dorp tydens wateronderbrekings toegang tot water het. AfriForum sal voortgaan om die organisasie se veg-en-bou-strategie toe te pas om volhoubare waterdienste vir inwoners te verseker.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN