Header Artwork
Suid-Afrikaanse regering weier samewerking in Botswana-saak

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag tydens ’n regstreekse uitsending vanuit Botswana die jongste verwikkelinge in die saak teen Welheminah Mphoeng Maswabi, ’n voormalige lid van dié land se intelligensiediens, aan die publiek bekend gemaak.

AfriForum is deur Botswana se regering aangestel om hulle by te staan om wedersydse regshulp van die Suid-Afrikaanse regering te bekom omdat van Maswabi se aktiwiteite glo betrekking op Suid-Afrika het.

Nel het vandag aansoek gedoen vir die voorlopige terugtrek van die saak hoewel die verdediging beswaar daarteen aangeteken het. Die saak is uitgestel tot 14 September 2021 wanneer die aansoek volledig geargumenteer sal word. Die landdros wat die saak aanhoor was nie vandag beskikbaar nie. Nel het gesê die doel is om die nodige feite in te samel en dan ’n aanbeveling oor vervolging te maak.

Maswabi was ’n agent van Botswana se Direktoraat van Intelligensiedienste en word vervolg op ’n klagte dat sy ’n leefstyl gehandhaaf het bokant haar vermoë. Verskeie berigte van mediapublikasies in dié land maak verder bewerings teen Maswabi dat sy terrorisme gefinansier het deur geld te verskuif wat gekoppel kan word aan Isaac Kgosi, die voormalige spioenhoof in Botswana.

Nel het vandag weer eens na die Suid-Afrikaanse regering se versuim verwys om sy samewerking in die saak te gee. Volgens Nel blyk dit asof die Suid-Afrikaanse regering sekere mense probeer beskerm. Hy het ook beklemtoon dat die saak nie laat vaar is nie, maar dat al die nodige bewyse en inligting eers bekom moet word voordat Maswabi se vervolging weer ingestel kan word.

Bridgette Motsepe-Radebe, die vrou van oudminister Jeff Radebe en skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa, word in die media daarvan beskuldig dat sy, saam met Maswabi, ’n mede-ondertekenaar was van rekeninge ter waarde van miljarde pula.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN