Drukgroepe vir die behoud van mediavryheid in Suid-Afrika is bekommerd oor die Rolprent- en publikasieraad (RPR) se voorgestelde drakoniese internet-regulasies wat ernstige implikasies vir mediavryheid inhou.
As die nuwe regulasies wet word, is dit moontlik dat selfs Jan Alleman voor publikasie eers sy of haar Facebook-status, nuutste twiet en Instagram-foto aan RPR sal moet voorlê.
Die voorgestelde wetgewing is vroeër vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer en het wye reaksie en teenkanting van mediagroepe, die Right2Know-veldtog en Avaaz ontlok. Avaaz is ’n globale netwerk wat 41 miljoen mense wêreldwyd verteenwoordig en besluitneming beïnvloed.
Die spertyd vir voorleggings oor die konsepbeleid was verlede week en benewens talle skriftelike besware wat ingedien is, is petisies ook voltooi. Daar is ook voor die kantore van die RPR in Centurion betoog.
Luidens ’n verklaring van R2K dui ’n regsmening wat hulle gekry het daarop dat die voorgestelde regulasies ongrondwetlik is.
“Niemand moet aan die drakoniese sensorskap van die RPR onderwerp word nie,” lui die verklaring.
Die R2K-groep het hom ook skerp uitgespreek oor ’n sogenaamde “plan van aksie” oor inligting en kommunikasie-tegnologie wat die regering met China, “een van die mees onderdrukkende lande ter wêreld vir internetgebruikers”, onderteken het. “Dit is ontwikkelings soos die wat ons bedag moet maak op bedreigings van ons vryheid van spraak en die reg tot toegang om inligting aanlyn vry te stel.”
Volgens die R2K hou ontwikkelings wêreldwyd en in Suid-Afrika niks goed vir internet-vryheid in nie. Die ontwikkelings sluit in oordrewe staatsveiligheid en bewaking, die teistering en inhegtenisneming van aanlyn-aktiviste , joernaliste en mense wat inhoud aanlyn publiseer en die sensorskap van inhoud onder die voorwendsel dat dit vir “morele” redes nodig is.
In sy voorlegging aan die RPR maak die R2K dit duidelik dat die sensorskap persvryheid en vryheid van spraak en uitdrukking ondermyn. Die R2K meen ook daar word vae terminologie in die konsepbeleid gebruik, terwyl regskategorieë misbruik word. Voorts is die “moralistiese toon” van die konsepbeleid ook ontstellend.
Avaaz het in sy kommentaar gesê die regulasies bedreig internet-vryheid en sal neerkom op die aftakeling van digitale demokrasie.
Avaaz het daarop gewys dat dit prakties onmoontlik sal wees om die regulasies deurentyd toe te pas, maar dit kan selektief gebruik word om sekere inligting te blokkeer. Die regulasies, wat ook behels dat enigiemand wat iets wil publiseer, vir intekening sal moet betaal, sal neerkom op die beperking van wie op die internet kan publiseer en wat se soort inligting beskikbaar is.
Avaaz het ’n e-pos-veldtog in Suid-Afrika begin waar mense aanlyn ’n petisie teen die regulasies kan onderteken.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie gaan in die lig van dié regulasies en ander stappe wat die regering beoog, ’n omvattende veldtog vir die beskerming van mediavryheid begin.
Roets het gesê regulasies om die publiek se internet-gebruik te reguleer, druk deur die regering op media om meer “patrioties” te wees in die publisering van nuus en dreigemente om die regering se advertensiebegroting in die “hoofstroom-media” af te skaal dui daarop dat mediavryheid in die toekoms beperk kan word.
“Die internasionale waghondorganisasie, Freedom House, waarsku reeds geruime tyd dat Suid-Afrika se media slegs gedeeltelik vry is. Dit laat die gevaarligte ten opsigte van mediavryheid net verder flikker,” meen Roets.