Header Artwork

Die Afrikaanse studente by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch is woedend nadat die kollege gister begin het om onderrig net in Engels aan te bied, terwyl ’n 50/50-taalbeleid vroeër aanvaar is.
Daar is met die eensydige gebruik van Engels begin nadat 14 swart studente eergister kapsie teen onderrig in Afrikaans gemaak het. Hulle het onwettig betoog, op die kampus geskreeu en lesings ontwrig. Dít terwyl die meerderheid van die studente Afrikaanssprekend is.

Sowat 150 Afrikaanssprekende studente weier nou om klasse by te woon totdat die dubbelmedium-taalbeleid teruggebring word.
’n Student, wat uit vrees vir viktimisering anoniem wil bly, het gesê die Afrikaanse studente is baie ontevrede oor die toedrag van sake. “Ons het ingeskryf met die verstandhouding dat 50% van die onderrig in Engels en 50% in Afrikaans is. Ons wil ons klasgelde terughê en ons gaan nie terug voordat daar weer ook in Afrikaans lesings is nie.”
Die student het gesê die taalprobleme op die kampus het ’n lang aanloop.

Die kollege het eergister ’n brief uitgestuur waarin mnr. Darryl Jacobs, waarnemende adjunk direkteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste in departement van landbou, sê dat alle klasse met onmiddellike effek net in Engels aangebied sal word totdat die hele studentegemeenskap by die sensitiewe taalkwessie betrek is.

Die brief is gestuur nadat die groepie oproerige studente aangedui het dat hulle uitgesluit voel omdat van die lesings net in Afrikaans of gedeeltelik in Afrikaans aangebied word.
Luidens die brief sal daar ook binne twee weke samesprekings tussen die studenteraad en huiskomitee wees om verhoudings en die taalkwessie te bespreek. ’n Dringende vergadering sal ook met die kollegeraad belê word.

Dr. Irving de Swardt, oupa van een van die studente, het ook sy misnoeë met die verandering in die taalbeleid uitgespreek. “Die studente is baie ‘opgeklits’. Hulle het ingeskryf om in Afrikaans te studeer. Die kollege kan nie die onderneming nou summier verbreek nie.”

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het ’n brief aan die kollege gestuur waarin beswaar gemaak word met die wegdoen van Afrikaanse. “Dit is studente se grondwetlike reg om in hul moedertaal onderrig te word sover dit moontlik is. Die Afrikaanse studente het juis by Elsenburg ingeskryf omdat hulle in Afrikaans onderrig wil word.”

AfriForum Jeug verteenwoordig sowat 60 studente se belange en gaan hulle bystaan in hul stryd om Afrikaanse onderrig te behou, het Maree gesê.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN