Deur dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum
As jy in die war gestuur en onthuts is deur Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, en President Cyril Ramaphosa se hantering van die heropening van skole, hoef jy stellig nie alleen te voel nie.
Miljoene onderwysers, personeel en leerders landwyd is angsbevange en verbyster deur die minister, haar departement en die president se bontpratery oor hierdie allerbelangrike aangeleentheid te midde van grootskaalse ongereedheid regoor die land. Baie van hulle het persoonlik teenoor my erken dat hulle en hulle skole nie weet wat aangaan en of hulle wel gereed sal wees vir als wat voorlê nie.
Die datums vir die heropening van skole vir sekere grade en die uitreik van regulasies (wat later gewysig en heruitgereik moes word) is halsoorkop gedoen sonder om die omvang van die probleem en taak in ag te neem. Skole moes toe inderhaas met ’n klomp persoonlike beskermende toerusting (PBT) en ander hulpbronne toegerus word om die leerders, personeel en leerkragte veilig te hou.
Hoewel heelwat skole reeds reg was voordat hierdie aankondigings gemaak is, sou dit altyd ’n onbegonne taak wees vir baie ander skole. En só moes Motshekga haar planne wysig nadat baie van laasgenoemde skole nie die vereiste sanitasiehulp van die staat af ontvang het nie. Sy moes ook erken dat die staat nie kon regkry wat sy in dié uitermate kort tyd gedoen wou hê nie. ’n Mens kan nie van die 80% van wanfunksionele skole (wat vóór die inperking nie eens lopende water, laboratoriums, biblioteke en elektrisiteit gehad het nie) verwag om nou skielik in rekordtyd iets nuuts perfek te doen nie. Die onderwysdepartement kan nie eens boeke betyds aflewer nie!
Skole se heropening gaan ook skynbaar oor meer as net om kinders te laat leer en hulle terselfdertyd veilig te hou. Daar is volgens berigte ’n kabinetskommeling aan’t kom en Motshekga is bang sy word uitgeskud. Die kanse is goed dat sy nie vervang of rondgeskuif sal word nie, maar daar is uiteraard altyd die kans dat dit wel sal gebeur. As jy nog nie veel gedoen het sedert jy in jou portefeulje aangestel is nie, moet jy nou skarrel om iets – trouens enigiets – te doen om te wys jy doen darem iets. Sy het in die proses net verdere verwarring en onmin gesaai en haar en haar departement se onbevoegdheid verder beklemtoon.
Nog erger is die PBT wat skielik net “weggeraak” het in onder meer KwaZulu-Natal. Dit herinner aan die kospakkies wat landwyd vir die armes bedoel is en weens amptenare se gierigheid nooit by hulle uitgekom het nie. Baie skole in KwaZulu-Natal is ook erg gevandaliseer tydens die inperking – 400 om presies te wees. Niemand weet in hierdie stadium of dit wel diefstal was nie, maar die vermoede is sterk by gebrek aan enige ander waarskynlike verduideliking. Dit is miljoene rande se goedere wat nou weer deur die provinsiale onderwysdepartement aangekoop moet word. ’n Ondersoek na die voorval is gelas, maar soos met baie ander soortgelyke voorvalle ry die skuldiges nooit aan die pen nie en word als toegesmeer.
Die Ouditeur-generaal (OG) lig elke jaar die provinsiale onderwys- en gesondheidsdepartemente uit as vrot kolle wat wanbesteding betref. Hulle het immers ook die grootste begrotings. Die OG voer in die 2018-2019-verslag aan dat die finansiële gesondheid van die provinsiale gesondheids- en onderwysdepartemente dringende ingrepe verg om te keer dat hierdie sleuteldiensleweringsdepartemente in duie stort.
Op die keper beskou, kan al hierdie kwessies egter teruggelei word na ’n staat wat al 26 jaar lank deur een party regeer word en steeds nie eens basies bedryfstake kan uitvoer nie. Telkens is hulle ontnugter nadat rolspelers in ’n bepaalde bedryf (in hierdie geval onderwys) hulle eers tot hulle sinne moes roep. Of hulle druk teen wil en dank deur met iets net om ’n katastrofe te veroorsaak en reusehoeveelhede geld te mors of te verduister. Die inperking en heropening van skole is sover maar twee sulke voorbeelde waarvoor die belastingbetaler en die publiek die prys gaan betaal – en nie die mandaryne in die ANC nie. Die land betaal reeds die prys vir regstellende aksie en die uithol van enige kundigheid in die staat om ideologiese doelwitte en selfverryking na te jaag. Wie weet of alle, of altans die meeste, skole in die toekoms reg gaan wees om hulle onderrig veilig te doen? Daar is net geen waarborg nie.
Daar is egter hope hoop. AfriForum het onlangs honderde hulppakkette aan skole geskenk om hulle gereed vir heropening te kry. Sowat 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers is aan skole landwyd versprei. Ek het self hiermee gehelp en was bemoedig, maar nie verras nie, deur Afrikaanse skole se algehele gereedheid om hulle onderrig te hervat. Veral in die Wes-Kaap is groot sorg gedra om skole veilig te laat heropen. Dit kan slegs gebeur wanneer ’n gemeenskap en skool op ’n tasbare manier hande vat om uitnemendheid, veilige onderrig en gesondheid na te streef. Die staat, soos ons uit die voorgaande kan aflei, sal nooit genoeg kan doen om ons kinders suksesvol te maak en veilig te hou nie.