Header Artwork
Rampe, noodtoestande en afsondering. Wat is die verskille? En hoe raak dit my?

Deur Marnus Kamfer

Met die koms van die COVID-19-pandemie, het die meeste lande, waaronder Suid-Afrika, drastiese stappe aangekondig in ’n poging om die verspreiding van dié gevreesde virus hok te slaan.

Suid-Afrikaners is skielik onderworpe aan ’n rits regulasies van moets en moenies wat op een of ander wyse ’n direkte of indirekte invloed op hulle lewens het.

Hoe word hierdie regulasies afgekondig? Waar kom dit vandaan? En tot hoe ’n mate kan dit gebruik word om inbreuk te maak op ons lewens?

Op 15 Maart 2020 het pres. Cyril Ramaphosa ’n nasionale ramptoestand afgekondig. Hy het die bevoegdheid in terme van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002. Die doel van hierdie wet is om voorsiening te maak vir ’n geïntegreerde en gekoördineerde rampbestuursbeleid wat fokus op die voorkoming of vermindering van die risiko van rampe, verligting van die felheid van rampe, noodgereedheid, vinnige en effektiewe reaksie op rampe en na-ramp herstel en rehabilitasie. Voorts maak dit voorsiening vir die instelling en werking van nasionale, provinsiale en munisipale rampbestuursentrums, vir rampbestuurvrywilligers en aangeleenthede wat daarmee verband hou.

Artikel 27 van die wet bepaal ’n ramptoestand kan verklaar word wanneer:

  • Bestaande wetgewing en gebeurlikheidsmaatreëls nie genoegsaam voorsiening maak vir die nasionale uitvoerende gesag om effektief met die ramp te handel nie; of
  • Ander besondere omstandighede die verklaring van ’n nasionale ramptoestand regverdig.

Gegewe die histerie waarmee die COVID-19 virus internasionaal begroet is, is dit duidelik dat die verklaring van ’n ramptoestand plaaslik geregverdig is. Artikel 27(2) bepaal dat die aangewese minister ná die verklaring van ’n ramptoestand regulasies mag uitvaardig (soos onlangs afgekondig is) wat met onder meer die volgende handel (My beklemtoning):

  • Die vrystelling van enige beskikbare hulpbronne van die nasionale regering;
  • Die vrystelling van personeel van ’n nasionale staatsorgaan vir die lewering van nooddienste;
  • Die implementering van rampbestuursplanne of dele daarvan wat van toepassing mag wees;
  • Ontruiming van ’n deel van of die hele bevolking in die geteisterde gebied indien dit nodig is vir die behoud van lewens;
  • Die regulering van verkeer in die geteisterde gebied;
  • Die regulering van persone of goedere in die geteisterde gebied;
  • Die beheer en besetting van persele in die geteisterde gebied;
  • Die voorsiening, beheer of gebruik van tydelike noodhuisvesting;
  • Die opskorting of beperking van die verkoop, verspreiding of vervoer van alkoholiese drank in die geteisterde gebied;
  • Die installering van tydelike kommunikasieverbindings na, van of binne die rampgebied;
  • Die verspreiding van inligting wat tydens die ramp benodig word;
  • Noodverkrygingsprosedures;
  • Die fasilitering van reaksie en na-ramp herstel en rehabilitasie;
  • Ander stappe wat nodig is om die eskalering van die ramp te voorkom, of om die gevolge van die ramp tot ’n minimum te beperk; en
  • Stappe om internasionale bystand te fasiliteer.

Die regulasies mag slegs uitgevaardig word in soverre dit nodig is vir die doeleindes van:

  • Bystand aan en beskerming van die publiek;
  • Voorsiening van noodleniging aan die publiek;
  • Beskerming van eiendom;
  • Voorkoming of bestryding van ontwrigting; en
  • Die hantering van die vernietigende en ander gevolge van die ramp.

Weens die feit dat ’n ramptoestand geweldig inbreuk maak op die regte van indivudue, bepaal artikel 27(5) dat ’n ramptoestand drie maande nadat dit verklaar is, verval. Andersins mag die minister dit vroeër beëindig met ’n kennisgewing in die Staatskoerant. Dit kan egter ook met ’n maand op ’n keer verleng word met ’n kennisgewing in die Staatskoerant.

Aangesien ons nou weet wat ’n ramptoestand is, wat dit behels en in watter omstandighede dit afgekondig mag word, vergelyk ons dit nou met ’n noodtoestand.

Noodtoestande word gereguleer deur die Wet op Noodtoestand 64 van 1997.

Artikel 37 van die Grondwet, synde die hoogste gesag in die land, bepaal dat ’n noodtoestand slegs ingevolge ’n Parlementswet verklaar mag word en ook slegs wanneer die voortbestaan van die nasie deur oorlog, ’n inval, algemene oproer, wanorde, ’n natuurramp of ’n ander openbare noodgeval bedreig word en die verklaring nodig is om die vrede of orde te herstel.

Artikel 1 van die Wet op Noodtoestand bepaal dat die president per proklamasie in die Staatskoerant ’n noodtoestand kan verklaar.  Die redes vir die proklamasie moet vermeld word en die proklamasie kan ter enige tyd weer deur die president herroep word.

Artikel 2 van dié wet handel met noodregulasies wat deur die president uitgevaardig kan word. Die regulasies kan voorsiening maak vir (My beklemtoning):

  • Die verlening van bevoegdhede aan persone of liggame, soos vermeld in die regulasie, om bevele, reëls of verordeninge uit te vaardig met die bedoeling om wet en orde te herstel en om voldoende voorsiening te maak vir die beëindiging van die noodtoestand of om te handel met omstandighede wat as gevolg van die noodtoestand ontstaan het of waarskynlik sal ontstaan; en
  • Die oplegging van strawwe vir ’n oortreding van of versuim om te voldoen aan die gemelde bevele, reëls of verordeninge. Hierdie strawwe kan die verbeurdverklaring van goedere, eiendom of instrumente insluit waarmee of in verband waarmee die misdryf gepleeg is.

Omdat die diskresie wat die president tot sy beskikking het so wyd is, is daar maatreëls in plek gestel in ’n poging om misbruik van dié wet te verhoed. Artikel 3(b)(i) bepaal byvoorbeeld dat die strawwe soos hierbo bespreek, nie tronkstraf vir ’n tydperk van drie jaar mag oorskry nie.  Artikel 3(b)(iii) bepaal verder dat daar nie gewysig mag word aan ’n wetsbepaling aangaande die kwalifikasies, nominasie, verkiesing of ampsduur van lede van die parlement of ’n provinsiale wetgewer nie. Ook nie aan die sittings van die parlement en provinsiale wetgewer nie, verder ook nie aan die bevoegdhede, voorregte of immuniteite van die parlement of ’n provinsiale wetgewer of van die lede van die komitees daarvan nie.

Die parlement vervul ’n waghondfunksie waar ’n noodtoestand geproklameer is, aangesien die Nasionale Vergadering regulasies, bevele, reëls of verordeninge wat uitgereik is, ingevolge die president se magte kragtens die noodtoestand, kan afkeur. Die Nasionale Vergadering kan voorts voorstelle aan die president maak met betrekking tot regulasies, bevele, reëls en verordeninge.

Artikel 37(2)(b) van die Grondwet bepaal dat ’n noodtoestand en alle regulasies, bevele, reëls of verordeninge wat daarvolgens uitgereik is, slegs vir ’n tydperk van 21 dae geldig is. Die Nasionale Vergadering kan egter stem dat die tydperk verleng word, maar dit mag nie die tydperk van drie maande op ’n keer oorskry nie.

Om verder te verseker dat die president nie sy magte misbruik nie, bepaal Artikel 37(3) van die Grondwet dat die howe ook oor die bevoegdheid beskik om te beslis oor die geldigheid van ’n noodtoestand, die verlenging daarvan en die geldigheid van enige aksies, regulasies, bevele, reëls en verordeninge daarvolgens uitgereik. Artikel 37 handel verder ook met die grondwetlike regte van individue waarby daar ingemeng mag word en tot watter mate daarby ingemeng mag word. Artikel 10 en 11 van die Grondwet wat handel met menswaardigheid en lewe, geniet egter te alle tye voorkeur en daar mag onder geen omstandighede daarop inbreuk gemaak word nie. Daar kan ook nie bepaal word dat die regering of enige ander persoon vrygestel word van vervolging weens ’n misdryf nie.

Gegewe die huidige toedrag van sake wil dit voorkom asof COVID-19 ’n openbare noodsituasie mag wees wat die nasie moontlik kan bedreig weens die ekonomiese verwoesting wat dit kan veroorsaak.

Daar mag dus moontlike regverdigingsgronde wees vir die president om ’n noodtoestand af te kondig.

Ons weet nou wat die verskil tussen ’n ramp- en ’n noodtoestand is. Maar waar presies pas afsondering (lockdown) in?

Dit is duidelik uit die uiteensetting hierbo dat die afkondiging van ’n ramp- sowel as ’n noodtoestand wye magte aan die aangewese minister en president verleen. Individue moet aan die betrokke regulasies voldoen om nie in die sop te beland nie.

Daar word egter nêrens pertinent met afsondering (lockdowns) gehandel nie, maar soos hierbo verduidelik, sal die owerhede, veral as ’n noodtoestand afgekondig word, wel oor die mag beskik om voor te skryf wanneer winkels oop mag wees, wanneer individue hulle huise mag verlaat en tot watter mate besighede sake kan doen. Die owerhede kan ook besluite rakende die opening en sluiting van skole en ander akademiese instansies neem.

Die opsies is legio. Italië het byvoorbeeld op 9 Maart 2020 ’n nasionale kwarantyn afgekondig wat bepaal dat burgers slegs hul huise mag verlaat vir werk, gesondheidsredes en as dit andersins glad nie anders kan nie. In Indië is een miljard mense se beweging geweldig ingeperk.

Die vraag is nou of pres. Ramaphosa ’n noodtoestand gaan afkondig en hoe verreikend die bepalings vir Suid-Afrikaners gaan wees. Net die tyd sal leer.

Marnus Kamfer is AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN