Header Artwork
Privaatvervolgingseenheid gryp in nadat owerhede versuim om op te tree in mishandeling van vyf maande oue baba

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag twee dokters en ’n maatskaplike werker by ’n polisiestasie in Pretoria bygestaan om strafregtelike klagtes van kindermishandeling teen die ouers van ’n vyf maande oue baba te lê. Dit volg nadat dokters reeds klagtes van kindermishandeling by die polisie aanhangig gemaak het toe die baba slegs vyf weke oud was. Die polisie het die saak aanvanklik ondersoek, maar het die betrokkenes ingelig dat die saak gesluit is weens ’n gebrek aan bewyse.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit skokkend dat die polisie en ander owerhede hulle plig tot só ’n mate versaak dat ’n kind aan erge mishandeling onderwerp word. “Die owerhede se weiering om hulle mandaat uit te voer en die babadogtertjie te beskerm, staan in skril kontras met politici se beloftes dat geweld teen kinders en vrouens tot die ergste graad gestraf moet word,” sê Leask.

Die babadogtertjie is reeds in April vanjaar (toe sy vyf weke oud was) in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem met beserings wat met kindermishandeling ooreenstem. Haar dokters en ’n privaat maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien. Die beweringe het ingesluit dat die baba se ribbes op 15 plekke gebreek was.

Die hospitaal het die ouers se weergawe van wat gebeur het ontvang en die dokters was dit eens dat die verduideliking nie strook met die aard van die beserings nie. Die dokters is van mening dat die beserings op gereelde kindermishandeling dui en dat dit nie toegeskryf kan word aan ongelukke nie. Die polisieondersoek het nog niks opgelewer nie.

Die baba is op 1 Julie vandeesmaand weer in die hospitaal in Pretoria opgeneem met longontsteking, skok en dehidrasie. Sy was ook vêr onder die gewigmylpaal vir haar ouderdom en was rasend honger toe sy opgeneem is. Verdere toetse het gewys dat haar sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het en volgens die dokters breek ’n baba se sleutelbeen nie maklik per ongeluk nie. ’n MRI-skandering het beserings getoon wat heel moontlik veroorsaak is deur iemand wat die baba erg geskud het. Daarbenewens was beide haar femurs gebreek en die tekens van verskeie gebreekte ribbes was nog sigbaar. Die dokters wat haar ondersoek het stem almal saam dat dit waarskynlik is dat die baba gereeld erg mishandel word. Die baba is tans in die hospitaal.

“AfriForum sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat hierdie kind beskerm word teen verdere mishandeling,” sê Leask.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN