AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) beteken op pres. Cyril Ramaphosa om die spesiale ondersoek eenheid (SOE) se verslag oor die minister van Gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se betrokkenheid by die Digital Vibes-korrupsieskandaal te kry.
Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is die tydsverloop van bykans drie weke sedert die SOE sy verslag van bevindings aan pres. Ramaphosa oorhandig het, sonder dat hy ’n aankondiging oor die inhoud daarvan maak, onaanvaarbaar. “President Ramaphosa se gebrek aan dringendheid om oop kaarte met die Suid-Afrikaanse publiek te speel, lei tot verdere verlies aan vertroue in die regering,” sê Kruger.
“Waarnemende minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se onlangse bevestiging dat die verslag nié binnekort bekendgestel gaan word nie aangesien die land in ’n veiligheidskrisis verkeer, is heeltemal onaanvaarbaar. President Ramaphosa het die verslag reeds twee weke voor die onluste gehad en moes toe al op die inhoud daarvan reageer het,” voeg Kruger by. “Ons is in ’n onsekere tyd. Mkhize is op spesiale verlof geplaas, met volle voordele. Die president is dit aan die belastingbetaler verskuldig om te sê wat die verslag bevind het.”
Kruger bevestig dat AfriForum die tydperk en meganismes wat PAIA voorskryf nougeset sal volg en dat die organisasie gereed is om selfs ’n hooggeregshofaansoek te loods om die SOE-verslag te bekom. “Ons sal beslis die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria nader om ’n bevel te verkry dat die verslag bekendgemaak moet word. Die belang van die spoedige en die deursigtige hantering van die verslag en kragdadige optrede na gelang van die inhoud daarvan is op hierdie punt in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis geweldig belangrik,” verduidelik Kruger.