Header Artwork
Panyaza Lesufi en die skoolnaam dwaalspoor

Wil jy nou meer!  Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, kondig vandeesweek met groot lawaai aan dat waar die name van leiers van die verlede, byvoorbeeld Hendrik Verwoerd en Jan Smuts, in skoolname voorkom, dit deur hom verander gaan word.  Volgens ’n mediaberig in The Citizen, het Lesufi gesê dat die departement op dié wyse toegewyd sal bly aan ’n nie-rassige onderwysstelsel in die land.

Hierdie uitlatings van Lesufi bevestig net weer sy verbintenis tot die aanstook van rasse-polarisasie en sy algehele gebrek aan belangstelling in die bevordering van gehalte-onderrig.  Vir hom is hierdie sleutelpos wat hy beklee, ’n geleentheid om politieke punte aan te teken en ideologiese speletjies te speel, met Gauteng se leerlinge as speelballe.

Waarom sê ek so?

Ten eerste, Hoërskool Hendrik Verwoerd, wat nou Rietondale Secondary School word, het reeds oor jare “getransformeer” soos die demografie van die area waarin dit geleë is, verander het.  Die naamsverandering gaan geen bydrae tot nie-rassigheid in die land se onderwysstelsel lewer nie, dit is bloot ’n kosmetiese proses.  Lesufi sê graag kinders moet saam in klaskamers en op die sportvelde verkeer en by die skool is dit reeds jare lank die geval.

Tweedens, die naamsverandering van hierdie skool is al in Mei vanjaar aangekondig.  Toe reeds het die skoolgemeenskap Lesufi baie duidelik herinner dat hy geen rol in die proses gespeel het nie, dat dit húlle besluit was en dat die meeste oud-leerlinge geen slegte gevoelens oor die huidige naam het nie.  Oud-leerlinge het ook op vele platforms (sien byvoorbeeld https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-05-27-whats-in-a-name-old-woeries-share-thoughts-on-schools-name-change/) getuig dat hulle nooit in hulle skooljare rassespanning of rassisme in die skool ervaar het nie, in teendeel, leerlinge van alle rasse en maatskaplike agtergronde het goed saamgewerk.  Hierdie is dus geen reuseoorwinning vir die LUR nie, maar die uitkoms van ’n gemeenskap se eie besluit.

Derdens, van geskiedenis gepraat, in Maart 2016 ‒ ’n volle drie jaar en vyf maande gelede ‒ het die einste LUR Lesufi met ewe veel fanfare aangekondig dat skole met die name van “apartheidshelde” soos Verwoerd teen September 2016 sou verander.  Toe reeds is hy herinner dat die versoek om naamsverandering van ’n skool van die ouerbeheerliggaam en skool moet kom.  Daarna het die kwessie weer in die stilte versink.

Nou vir die belangrikste vraag: waarom word hierdie ou nuus nou opgewarm?  Want Gauteng se skoleplasingsproses is byna afgehandel.  Ouers gaan binnekort weet of hulle kinders vir 2020 geplaas is.

’n Jaar gelede het Paul Colditz van FEDSAS al verklaar dat die leerlingtal van 2006 tot 2016 in openbare skole in Gauteng met 348 118 toegeneem het.  Indien ’n mens sou veronderstel dat ongeveer ’n duisend leerlinge per skool geakkommodeer word, sou dit beteken dat ten minste 348 nuwe skole in dieselfde tyd gebou moes word.  Helaas is net 85 deur die onderwysdepartement opgerig.  Sedertdien het weinig verander.  Die agterstand moet nou reeds ver verby ’n honderd skole wees, want al meer leerlinge migreer na Gauteng.

Dan moet ’n mens ook byvoeg dat Suid-Afrika een van die lande is waar die grootste persentasie van die nasionale begroting aan onderwys toegewys word.  Die klagte van ’n tekort aan fondse moet dus teen die aanwending (of moet ek sê wanaanwending) van begrotings opgeweeg word.

’n Mens kan gevolglik met groot sekerheid voorspel dat daar vanjaar weer probleme gaan wees om alle Gautengse leerlinge wat in 2020 in graad 1 of graad 8 sal wees, te akkommodeer.  In die verlede het oplossings wat Lesufi voorgestel het, onder meer ingesluit dat alle Afrikaanse skole moet verengels.  Die skole is reeds almal vol, dus sal die verandering van hulle taalbeleid hoegenaamd nie bydra daartoe dat meer kinders toegang tot skole sal kry nie.

Verder word sommige skole eenvoudig volgeprop.  Mediaberigte verwys na skole waar daar sewentig of meer kinders per klas is.  Uiteraard bly gehalte-onderrig dan in die slag, om nie te praat van die veiligheidsrisiko’s wat só vir leerlinge en personeel geskep word nie.

Hierdie soort scenario’s en ander probleme soos boeliegedrag en bende-aktiwiteite, het die afgelope tyd Gautengse skole om die verkeerde redes in die kollig geplaas.  Die TALIS-verslag wat in Julie vanjaar vrygestel is, het bevind dat Suid-Afrikaanse skole die gevaarlikste instellings uit skole in 48 lande is.

Waar hierdie uitdagings die LUR in die gesig staar, is sy aksieplan eenvoudig: fokus op ras en blaas polarisasie aan, deur weer Afrikaanse taalbeleid en skole se name as teikens op te stel en die spervuur van sy eie onvermoë weg te trek.

Hierdie is ’n gevaarlike spel wat maklik op vandalisme en selfs geweldpleging kan uitloop, soos betogings by verskeie skole in die verlede reeds bewys het.  Dit bied ook geen oplossing aan kinders en ouers wat droom daarvan om ’n beter toekoms te hê nie.

So ’n dwaalspoor strategie het ook net ’n beperkte leeftyd.  Êrens oorspeel die verantwoordelike gewoonlik sy hand en word tot verantwoording geroep.  Dit mag wees omdat hy wette oortree en met regstappe vasgevat word, dat kollegas moeg raak vir sy speletjies en hom uitrangeer, of dat die benadeeldes intree en sorg dat hy aanspreeklik gehou word.

AfriForum hou die uitsprake en aksies van die LUR fyn dop.  In die verlede het ons nie geskroom om onderwysdepartemente en hulle amptenare wat buite die raamwerk van die wet optree, vas te vat nie en ons bly deurlopend verbind tot die bevordering en beskerming van hoë gehalte moedertaalonderrig.

Ondersteun AfriForum se aksies ter bevordering van hoë gehalte, Afrikaanse onderrig.  SMS die woord “ONDERWYS” aan 42314 (R1 per SMS).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN