Header Artwork
Owerhede dringend versoek om ivermektien vir die behandeling van COVID-19 te oorweeg met derde vlaag op horison   

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die I can make a difference-doktersgroep het vandag ’n dringende brief aan verskeie gesondheidsowerhede gestuur waarin dringend versoek gerig word dat ivermektien vir die behandeling van COVID-19 aanbeveel moet word, veral omdat daar bewyse is wat daarop dui dat die volgende golf van COVID-19-infeksies in Suid-Afrika begin het. Die brief is gerig aan die ministeriële raadgewende komitee oor COVID-19, die Departement van Gesondheid, die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) en die parlementêre portfoliokomitee vir Gesondheid.

Die twee organisasies is genoop om die aksie te neem ná onlangse verwikkelinge:

  • Indië, die tweede mees digbevolkte land in die wêreld, het ivermektien goedgekeur as behandeling vir COVID-19 en daar is ’n afname in COVID-19-verwante sterftes.
  • Zimbabwe het ivermektien goedgekeur as behandeling vir COVID-19 en ervaar sukses in die bestryding van die pandemie.
  • ’n Artikel in The American Journal of Therapeutics beveel aan dat “ivermektien wêreldwyd en sistematies ontplooi moet word om COVID-19 te voorkom en te behandel.”
  • Verskeie epidemiologiese analises van areas waarin ivermektien versprei is, toon ’n duidelike afname in die COVID-19-sterftesyfer.
  • Ivermektien verlaag virale replisering en verminder dus virale mutasie, wat op sy beurt die kans verlaag dat mutasie buite beheer kan raak – ’n verskynsel wat ’n negatiewe uitwerking op die implementering van entstowwe sal hê.

“Ongewone omstandighede vereis ongewone optrede. Die wêreldwye pandemie is al meer as ’n jaar aan die gang en ons werk steeds aan die ontwikkeling van doeltreffende behandelings teen COVID-19. Wat ons wel weet, is dat dit jare gaan neem om genoeg van die bevolking te immuniseer sodat hulle doeltreffende en veilige immuniteit kan hê. As ‘n mens dit in ag neem, is dit onverantwoordelik om toe te kyk hoe mense doodgaan aan COVID-19 terwyl jy weet daar is ’n veilige geneesmiddel wat tot hul behandeling toegevoeg kan word,” sê dr. Naseeba Kathrada, stigter van die I can make a difference-doktersgroep.

“Die bewyse toon duidelik dat ivermektien ’n kritieke rol kan speel in die stryd teen COVID-19. Die tyd het aangebreek dat voorkombare sterftes gekeer word en ’n stokkie gesteek word voor die vernietiging van lewens en inkomste wat met inperkings gepaard gaan. Dit is tyd om ivermektien aan te beveel vir die behandeling van COVID-19,” sê Barend Uys, hoof van navorsing van AfriForum.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN