Regter Norman Davis het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ten gunste van AfriForum, asook vier matrikulante, beslis in dié vyf mede-applikante se hofaansoek rakende die oorskryf van twee eindeksamenvakke. Die hof het beslis dat Angie Motshekga, minister van Basiese Onderwys, se besluit rakende die oorskryf van die eindeksamen in Wiskunde II en Fisiese Wetenskap II ultra vires en ongrondwetlik is. Die respondente, wat die aansoek teengestaan het, is verder gelas om AfriForum se regskostes vir die aansoek te betaal.
Dit volg nadat Motshekga op 4 Desember aangekondig het dat matrieks die eindeksamen in sowel Wiskunde II as Fisiese Wetenskap II op onderskeidelik 15 en 17 Desember 2020 moet oorskryf. Die hof se uitspraak vandag beteken dat geen matrikulant wat bona fide opgetree het die aanvullende eksamens hoef af te lê nie en dat hul eerste poging gemerk en die punte beskikbaar gestel sal word.
“AfriForum verwelkom die hofuitspraak en beskou dit nie net as ’n oorwinning vir die byna 400 000 matrieks wat deur minister Motshekga se besluit benadeel sou word nie, maar ook as ’n oorwinning teen die departement se onregverdige, arbitrêre en eensydige besluit in hierdie verband. Ons maan nou die departement om te fokus op die vastrek van die skuldige partye om sodoende te verseker dat die integriteit van die eksamen bo verdenking is,” sê Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum.
Die burgerregteorganisasie gaan verder versoek dat die departement bekendmaak watter stappe in plek gestel gaan word om te verhoed dat soortgelyke misstappe in die toekoms voorkom.
AfriForum se aansoek was onder meer gebaseer op die departement se eie regulasies wat bepaal dat indien enige onreëlmatigheid nie deur die kandidaat (wat die eksamen afgelê het) se handeling voortgespruit het nie en as die kandidaat geen voordeel daaruit getrek het nie, móét die eksamenantwoordstel nagesien word en die uitslag bekend gemaak word.