Header Artwork
Onthou Retief en Dingaan …!

Deur Barend Uys

Baie kere as daar berig word oor samewerking tussen Afrikaners en een van die ander volke van Suidelike Afrika word daar in die kommentaar gewaarsku: “Onthou van Retief en Dingaan!” Wat is die lesse wat ons vandag moet leer uit die geskiedenis van Piet Retief en Dingaan?

Op 6 Februarie 1838, presies 182 jaar gelede, word Piet Retief en sy hele geselskap in opdrag van koning Dingaan om die lewe gebring. Afrikaners beskou steeds hierdie optrede as verraderlik, veral omdat daar net twee dae voor hierdie gebeurtenis ’n traktaat tussen Retief en Dingaan gesluit is waarvolgens die grond tussen die Umzimvubu- en die Tugelarivier aan Retief en sy volgelinge afgestaan is.

Eendag tydens ’n besoek aan ons familieplaas in die Newcastle-distrik haal ek ’n ou blou boek, Indaba, my children, geskryf deur Vusamazulu Credo Mutwa, van die boekrak af. Voor in dié boek is die volgende woorde in bewerige blou ink geskryf: “Lydia from Impopoma 21/7/76.” My pa se kant van die familie het tussen die Zoeloes grootgeword en kon almal Zoeloe praat; hierdie boek was ’n geskenk aan my ouma Lydia.

Mutwa is ’n Zoeloe-storieverteller of beskermer van die Umlando of stamgeskiedenis. Sy oupagrootjie Silwane Shezi was koning Dingaan se hooftoordokter. Mutwa het die Zoeloe-weergawe van die interaksie tussen koning Dingaan en die Voortrekkers soos deur sy oupagrootjie waargeneem van sy oupa Ziko Shezi gehoor.

Mutwa gee ’n pragtige beskrywing van hoe die Zoeloes vir Piet Retief ervaar het: “Die wit man, Litivu (só het die Zoeloes vir Retief genoem) was ’n ou man toe hy die eerste keer in ons land aangekom het; sy baard en sy hare was so wit soos die oggendryp in Junie en hy was nie so lank soos die ander wit mans nie. Hy was egter dik van lyf en steeds sterk gespierd. Hy was ’n man van lag en die Laggees was deurgaans in sy oë … Ons het almal van hierdie Vreemde Een gehou wat sy bes probeer het om met ons te praat in die taal van die Xhosas, wat hy redelik goed kon praat, maar met ’n vreemde aksent.” Waarom dan die moord op Retief en sy geselskap?

Mutwa verduidelik dat koning Dingaan se vroue in die koninklike kraal – die “Verbode Plek” – gebly het en dat alle Zoeloes geweet het dat enige man wat dit te naby aan hierdie kraal sou waag, die doodstraf sou kry. Volgens Mutwa was daar in Retief se geselskap ’n Engelsman genaamd Halstead wat nie die ekspedisie na kgosi Sekonyela meegemaak het nie. Die Zoeloes het Halstead “Nuuskierige Loerder” genoem omdat hy die gewoonte gehad het om by die Zoeloe-krale “rond te kruip” om inligting in te samel oor die Zoeloes se gebruike en veral hul wapens. Die aand voordat Piet Retief met koning Dingaan se beeste (wat hy van kgosi Sekonyela teruggeneem het) teruggekeer het, het een van koning Dingaan se vroue, wat swanger was, gesien hoe ’n wit gesig (Halstead) oor die heining van die kraal loer. Die voorval is aan koning Dingaan se “tannie” Mkabayi gerapporteer en sy het na bewering vir koning Dingaan oortuig dat die wit mans by sy kraal was met bose bedoelings. Koning Dingaan se eerste instink was om vir Retief weg te stuur, maar hy het herbesin en besluit om die yster te slaan terwyl dit warm was en Retief genooi om te bly vir ’n seremoniële fees.

Op die laaste dag van die fees het koning Dingaan die feesvieringe verlaat en die koppie wat oor die kraal uitkyk (heel moontlik kwaMatiwane of Moordkoppie) geklim. Volgens Mutwa het hy vir Silwane Shezi die vooraf bepaalde teken gegee: hy het stadig sy knopkierie opgelig en geskree: “Maak dood … maak dood die towenaars!” Piet Retief en sy geselskap is gegryp en doodgeslaan met siqongqwana-leerlooiknuppels. Hierdie knuppels word deur Zoeloe-vroue gebruik om hul leerrompe te bewerk. Volgens Mutwa is die geselskap op hierdie spesifieke manier om die lewe gebring omdat hulle volgens streng stamwette en -gebruike tereggestel is vir ’n “poging” tot ’n oortreding teen die Hoë Vroue van ’n hoofman

Hier is ’n paar lesse wat uit hierdie oorvertelling geleer kan word. ’n Eerste oppervlakkige les is dat die onbesonne optrede van een mens vir baie ander ernstige negatiewe gevolge kan inhou. Dieperliggend egter kom ’n mens tot die besef dat gemeenskappe met verskillende tradisies en gebruike ’n gegewe werklikheid is – mense is eenvoudig nie vryswewende individue nie. ’n Gebrek aan kennis en begrip van kulturele verskille kan onbewustelik tot misverstande, met negatiewe gevolge, lei. Hierdie kennis en begrip kan slegs bestaan dáár waar wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe ’n werklikheid is. Indien ons in vreedsame naasbestaan wil lewe sal ons hard moet werk om dít ’n werklikheid te maak.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN