Striemende aanvalle, ook van die regbank, is die afgelope weke op adv. Busisiswe Mkhwebane, Openbare Beskermer (OB), en haar kantoor gedoen ná uitsprake en optrede wat ernstige vrae oor haar geskiktheid en bekwaamheid as OB laat ontstaan het.
In die lig van dié omstredenheid het die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) vandag ’n blitsseminaar in Centurion aangebied waar regsgeleerdes antwoorde op brandende vraagstukke rondom die OB, haar bevoegdheid en haar uitsprake probeer gee het.
Die seminaar val ook saam met die hofgeding wat aan die gang is waarin pres. Cyril Ramaphosa ’n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof teen die OB bring oor Pravin Gordan, minister van openbare ondernemings. Ramaphosa voer aan hy het gehoor gegee aan ’n vroeëre versoek van die OB en dat hy nie tevrede is oor die wyse waarop sy aan hom wil voorsê wat om te doen nie.
Dr. Llewelyn Curlewis, regskenner en senior lektor aan die Universiteit van Pretoria, het in sy voorlegging, in die lig van ander onlangse uitsprake teen die OB, ook dié van die Konstitusionele Hof, gevra of sy nog geskik is as advokaat én om in dié amp te dien.
Die Konstitusionele Hof het nie net uitspraak gelewer dat Mkhwebane oneerlik opgetree het in die Bankorp/ABSA-saak nie, maar ook ’n bestraffende kostebevel teen haar gehandhaaf.
Verskeie burgerregte-organisasies, insluitend AfriForum, en opposisiepartye het reeds versoek dat Mkhwebane bedank en van die rol van advokate geskrap word.
Curlewis het verwys na bestaande wette wat pertinent vereis dat iemand in Mkhwebane se posisie te alle tye bo verdenking moet wees en geskik en gepas moet optree. Daar was ook al verskeie hofuitsprake wat uitbrei op die terme geskik en gepas en waarvolgens tot die slotsom gekom kan word dat iemand in die OB se posisie bekwaam, gekwalifiseerd, bevoeg, regverdig, uitstekend, ’n onkreukbare karakter, geloofwaardig, eerlik, bewonderingswaardig, waardig en aanbevelenswaardig moet wees.
Volgens Curlewis moet daar inderdaad ’n waardeoordeel oor Mkhwebane en haar optrede gevel word. Hy meen die howe en die regspraktykraad, wat die professie moet reguleer, het ’n verpligting en verantwoordelikheid om vas te stel of Mkhwebane in haar amp as OB en as advokaat geskik en gepas is.
Curlewis sê ook strafregtelike klagte kan teen Mkhwebane ingedien word op grond waarvan daar ná ondersoeke bevind kan word dat sy nie geskik is nie.
Willie Spies, direkteur van Hurter Spies Ing. en regsverteenwoordiger van AfriForum, het ’n blik gegee op die rol van die OB as een van ses Grondwetlike instellings. Hy het verwys na Mkwebane se voorgangers waarvan adv. Thuli Madonsela die enigste een was wat nie tydens haar termyn oor een of ander kwessie in omstredenheid gedompel was nie.
Spies meen Suid-Afrika sit met ’n OB in die persoon van Mkhwebane wat met die spesifieke doel aangestel is om die Zuma-regime ter wille te wees. “Sy het ’n weghardloop Openbare Beskermer geword en niemand was al die onderwerp van soveel litigasie soos sy nie. Sy is eerder ’n openbare bedreiging as ’n openbare beskermer.”
Verskeie dinge kan in die nabye toekoms met haar gebeur. In die stadium is 3 September as die datum geïdentifiseer waarop die justisiekomitee in die parlement met ’n ondersoek na haar sal begin. Ramaphosa mag haar skors wanneer die komitee met sy ondersoek begin. Daar mag ook later ’n geslote stemming in die Nasionale Vergadering oor haar lot wees en dit is nie seker of sy dit sal oorleef nie. Indien sy dit wel oorleef, sal sy waarskynlik voortgaan om haarself uit te woed totdat haar termyn verstryk.
Spies sê voorts daar is byna geen kans dat ’n werklike onafhanklike OB Mkhwebane sal opvolg nie. As na aanstellings gekyk word, wat duidelik nie onafhanklik is nie, hou OB’s net die heersende orde in stand.
Prof. Koos Malan, dosent in publieke reg aan die Universiteit van Pretoria, het ook sy bedenkinge oor die rol van die OB en Mkhwebane se geskiktheid vir die posisie.
“Daar is ’n algemene siektetoestand in Suid-Afrika se grondwetlike orde. Mkhwebane is dus nie vreemd in die sin dat alle grondwetlike instellings tans in hul rol en doel faal nie.”
Volgens Malan kan die parlement die OB verwyder op grond van wangedrag, onbevoegdheid en onbekwaamheid.
Volgens hom is die onlangse Konstitusionele Hof se bevinding teen Mkhwebane genoegsame bewys van wangedrag op grond van beweerde meineed wat sy gepleeg het. “Uitsprake dui daarop dat sy nie besluite neem wat binne haar bevoegdheid is nie. Dit dui daarop dat sy uit haar diepte is. Daar is eenvoudige beginsels wat sy eenvoudig net ignoreer.”
Hy meen as die parlement prinsipieel moet optree, is daar genoeg beskikbare getuienis om haar te verwyder. Die dilemma is egter dat die parlement haar aanstelling twee en ’n half jaar gelede goedgekeur het. Sou daar nou besluit word om haar te verwyder, mag dit lyk of die parlement versuim om die onafhanklikheid van die OB te eerbiedig en of die besluit geneem word om Ramaphosa te beskerm.
Malan wys voorts daarop dat die huidige politiek verwante regsklimaat ook in ag geneem moet word. Die klimaat is op die oomblik pro-Ramaphosa en juridiese en ander instellings voel ’n direkte plig om Ramaphosa by te staan om die land te probeer red. Die Nkandla-uitspraak het dit volgens hom geïnisieer.
Volgens Malan kan daar ondanks dit egter steeds nie verby die staatlik konstitusionele en demokratiese wanfunksionalisme gekyk word nie. Die antwoord hierop is ’n nie-staatlik konstitusionele burgerlike samelewing wat hom so goed moontlik moet organiseer ten einde te vergoed vir die wanfunksionering van die staatlike orde. “In weerwil van die totalitêre staat sien ons toenemend ’n gesonde reaksie onder Afrikaners wat in plaas daarvan om toeskouers van die mislukte staat te wees instellings bou om ’n nuwe orde teweeg te bring.”