Header Artwork
Menseregtekommissie kan nie vertrou word om gesprekke tussen gemeenskappe te fasiliteer nie

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) nie vertrou kan word om gesprekke tussen gemeenskappe in Suid-Afrika te fasiliteer nie, omdat die MRK dubbele standaarde bevorder en die skouers optrek wanneer geweld teen minderhede geromantiseer word. Daarom beskou AfriForum die MRK as deel van die probleem in Suid-Afrika, nie as die oplossing nie.

Dit volg nadat die MRK AfriForum en ’n aantal ander instellings gekontak het oor dié regeringsinstelling se voorneme om gesprekke tussen gemeenskappe en organisasies te fasiliteer.

Die MRK het in 2019 uitspraak gelewer in verband met ’n klag oor die EFF-leier, Julius Malema, se uitlating dat hy “ten minste vir nou” nie ’n beroep op sy ondersteuners doen om wit mense uit te moor (“slaughter”) nie. “Die MRK het aangevoer dat Malema se uitlating nie haatspraak is nie. Wat dié uitspraak veel erger maak, is dat die MRK aanvoer dat dit nie haatspraak kan wees nie omdat Malema swart is,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

“Die MRK voer aan dat dubbele standaarde tussen verskillende rassegroepe moet bestaan en dat die ras van die oortreder ’n bepalende faktor moet wees in die vraag of ’n gewraakte stelling haatspraak is of nie. Die MRK voer as ’t ware aan dat swart mense nie aan dieselfde standaard as wit mense gemeet kan word nie. Dit is nie net rassisties teenoor wit mense omdat dit diskriminerend is nie, dit is ook rassisties teenoor swart mense omdat dit beledigend en neerhalend is,” sê Roets.

In ’n skrywe aan die MRK het AfriForum gevra dat hulle in kennis gestel word wanneer die MRK sy standpunt verander na een van konsekwentheid, in welke geval AfriForum graag met die MRK sal werk. “Solank as wat die MRK volstaan by die stelling dat dubbele standaarde tussen rassegroepe toegepas moet word en solank as wat die MRK die skouers optrek wanneer die land se invloedrykste politieke leiers die uitmoor van minderhede op grond van hul ras romantiseer, het AfriForum geen voorneme om saam met die MRK te werk nie,” sluit Roets af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN